Die gewilde sanger, omroeper, akteur en televisieaanbieder, Riaan Grobler, is ’n man met ’n groot hart wat nog altyd passievol was oor mense.

Dit is hoekom hy onlangs ’n liefdadigheid projek van stapel gestuur waarmee hy bejaardes, in ouetehuise regoor die land, wil bederf met ’n gratis vertoning om hulle alledaagse bestaan ’n bietjie op te kikker.

“Ek het soort van in ’n ouetehuise grootgeword. My oumagrootjie het ’n losieshuis besit en later ’n ouetehuis bestuur en ek moes altyd vir die oumense sing of orrel speel. Dit is waar my liefde vir bejaardes ontstaan het,” verduidelik hy. “Die hartseer stories wat ek al oor die jare gehoor het van oumense wat net letterlik net afgelaai word, het my aangegryp en dit is hoekom ek met hierdie Ek Wil Lewe-projek begin het.”

Om dinge nog meer spesiaal te maak, bak Riaan boonop ook self die koeke en terte wat hy saamvat wanneer hy die oumense besoek. “Dit is wat dié projek anders maak. Buiten vir die feit dat ek by die bejaardes kuier en vir hulle sing, bederf ek hulle ook met lekkernye wat ek self in Centurion Hospice se kombuis gebak het,” vertel die sanger.

Musiek is al deel van Riaan se lewe vandat hy kan onthou en hy het grootgeword met Afrikaanse legendes se treffers, soos Bles Bridges, Anneli van Rooyen, Laurika Rauch, Carike Keuzenkamp en Rina Hugo wat in die huis speel.

Hy het op die platteland grootgeword en was nog nooit bang om sy drome te volg nie en moes letterlik van platemaatskappy-na-platemaatskappy gaan om homself te verkoop en uiteindelik ’n voet in die deur te kry.

Riaan het sy eerste CD is in 2006 uitgereik en sedertdien het hy talle treffers en suksesvolle musiekvideo’s vrygestel en die voorreg gehad om saam met van die land se grootste kunstenaars op te tree en duette op te neem, waaronder Juanita du Plessis, Rinél Day, David Fourie, Nadia Beukes en Cindy Nell.

Hy het onlangs sy sewende ateljee-album, Liefdeshartaanval, uitgereik wat reeds baie goed deur radiostasies ontvang is.

Riaan hoop om die Ek Wil Lewe-projek na soveel ouetehuise en aftreeoorde as moontlik in die land te vat en so ’n verskil te maak.

As jy wil hê dat hy by jou ouetehuis moet kom kuier, stuur ’n e-pos na riaan@riaangrobler.co.za.

Ek Wil Lewe Vir More is beskikbaar op alle digitale platforms.

Sosiale Media: Facebook | Instagram | Twitter

Leave a Reply

error: Content is protected !!