Die bekende Suid-Afrikaanse spreker, lewensafrigter, fasiliteerder en vuurloopinstrukteur, Cobus “die Viking” Visser, wil dié maand help om die kollig op hemofilie, ’n seldsame genetiese afwyking waarin die bloed nie op ’n tipiese manier stol nie, te skyn.

Wêreld Hemofilie-dag word op 17 April herdenk en vanjaar se tema is: ‘Billike toegang vir almal: Erkenning van alle bloedsiektes’. Cobus, wat as kind met hemofilie gediagnoseer is, is ’n kampvegter vir gelyke en omvattende toegang tot sorg vir alle hemofilie-lyers en wil dié geleentheid gebruik om mense bewus te maak van die siekte en die impak daarvan op die lewens van lyers, asook hulle families en versorgers.

“Hemofilie en verwante bloedsiektes is lewenslange chroniese toestande waarvoor daar geen geneesmiddel is nie. Dit beïnvloed die liggaam se vermoë om bloed te stol, wat ’n andersins onopvallende gebeurtenis, soos om per ongeluk teen iets te stamp of die tandarts te besoek, in ’n lewensgevaarlike trauma kan omskep,” verduidelik Visser. “Omdat bloedsiektes so seldsaam is, word dit ongelukkig dikwels misgekyk.”

 Daar is minder as 300 000 hemofilie-lyers wêreldwyd, met ongeveer 2 300 mense in Suid-Afrika wat met dié afwyking gediagnoseer is. Daar is egter, na verwagting, sowat 15 000 mense in die land wat ongediagnoseerd is. As ’n lid van die Suid-Afrikaanse Hemofilievereniging wil Cobus dus alle Suid-Afrikaners aanmoedig om vanjaar meer oor hemofilie en verwante bloedsiektes te leer.

Wêreld Hemofilie-dag word op 17 April herdenk.

Met sy geboorte was die lewensverwagting vir mense met hemofilie 11 jaar. Danksy mediese vooruitgang kan mense met dié siekte vandag ’n vol en vervulde lewe hê – met “die Viking” as ’n spreekwoordelike voorbeeld.

Cobus het in 2013 homself in die hospitaal bevind en kon nie beweeg nie. In plaas daarvan om op te gee, het hy besluit dat sy liggaam nie langer sy tronk sou wees nie. Ten spyte van sy toestand het hy ongelooflike fisiese prestasies behaal, insluitend om in 2018 Kilimanjaro met krukke aan te durf – iets wat hom amper sy lewe gekos het.

Sedertdien het hy dit sy lewensdoel gemaak om ander te help om hulle topprestasie te bereik en oor die jare met honderde individue, besigheidsleiers en mense met gestremdhede gewerk.

Buiten verskeie akademiese prestasies is Cobus ’n gesertifiseerde meester-vuurloopinstrukteur, ’n gesertifiseerde NLP-lewensafrigter, ’n uitvoerende besigheidsafrigter, en ’n ShadowMatch- en Enneagram-fasiliteerder. Hy is reeds twee keer met die Men of Valour-toekenning vereer.

Visser het besluit om sy inspirerende storie te deel in ’n splinternuwe boek, Walking Through Fire. Whatever It Takes, ’n diep persoonlike vertelling van sy lewensreis gevul met uitdagings, stryd, en die onwrikbare drang om bo sy omstandighede uit te styg. “Dit is ’n verhaal wat nie net die fisiese en emosionele pyn wat ek as gevolg van my hemofilie ervaar het, dek nie, maar ook die krag van die menslike gees om teen alle verwagtinge in te triomfeer,” sê hy.

Die meesleurende outobiografie begin met Cobus se vroeë lewe, wat oorskadu is deur sy gesondheidstryd, en kyk dan na die keerpunt in sy lewe, en dit wat gevolg het. Hy deel regdeur openhartig sy reis van selfontdekking, geloof, en die onwrikbare oortuiging dat alles moontlik is met toewyding en ’n passie om die wêreld te verander.

Walking Through Fire. Whatever It Takes is eersdaags beskikbaar in Engels en Afrikaans en sal amptelik tydens ’n glansryke boekbekendstelling vrygestel word.

Eksemplare van hierdie lewensveranderende boek kan egter nou reeds vooraf bestel word.

Plaas solank jou bestelling hier: http://bit.ly/cobusbook2024

Leave a Reply

error: Content is protected !!