Die opgewekte, voetstamplekker wysie en betekenisvolle lirieke van die sanger, Zander Swanepoel, se tweede enkelsnit – Pot se Deksel – gaan beslis binnekort ’n gunsteling wees op al wat ’n kuier en dansvloer is. Hierdie enkelsnit is pas vrygestel en reeds besig om die radiogolwe oor te neem.

Pot se Deksel is geskryf deur Nicolaas (Nicky) Kleynhans en gaan oor ware liefde en om jou ‘pot se deksel’ te vind en daaraan vas te klou.

Baie van ons het al ’n liefdesteleurstelling gehad, maar as die ‘een’ oor jou pad kom wat alles beter maak, is alles mos weer in vrede en harmonie. Die liedjie gaan oor om aan daardie persoon vas te klou en die lewe saam haar te geniet en te waardeer tot die einde,” vertel Zander oor hierdie besonderse Volwasse Kontemporêre snit. “Omdat ek self al die ‘een’ gevind het, kan ek met die liedjie vereenselwig en hoop dat luisteraars ook daarby sal aanklank vind. Dat dit vir hulle hoop sal gee vir die liefde of sal motiveer om te waardeer wat hulle het.

Pot se Deksel volg in die voetspore van die sy debuut-enkelsnit en -musiekvideo, Voorwaarts, wat baie goed ontvang is en steeds op die radio gehoor kan word. Hy beskou dit as een van die grootste hoogtepunte van sy loopbaan sover.

Hierdie lewenslustige musikant is in die Vrystaat gebore, maar woon tans in Pretoria saam met sy vrou en dogtertjie. Alhoewel hy nou eers twee jaar amptelik in die musiekbedryf doenig is, kom hy uit ’n musikale familie en sing hy al vandat hy kan onthou.

Ek sing al van kleins af in die kerk en koor en het grootgeword met musiek in die huis. Op die oomblik, is ek die koormeester van my kerkkoor en is deel van ’n mannegroep, The Fellowship, wat verskeie video’s op YouTube het,” vertel die sanger wat ook spog met ’n graad in Sportwetenskap van Tukkies en tans besig is om homself as persoonlike fiksheidsinstrukteur te kwalifiseer.

Zander het groot waardering vir plaaslike kunstenaars soos Elandré, Roan Ash en Herman Kleinhans, asook internasionale sterre soos Jim Reeves, die Bee Gees, die Beatles, Smokie, Creedence Clearwater Revival, Bob Marley, Tracy Chapman, Sam Smith, Ed Sheeran, Calum Scott en Julia Zahra, en put hoofsaaklik inspirasie vir sy musiek uit alledaagse gebeurtenisse en ervarings. In die toekoms sou die sanger ook nog graag saam met name soos Karen Zoid, Theuns Jordaan, Mathys Roets en Jan Blohm wou werk as sy die kans sou kry.

Hy verklap dat hy ’n perfeksionis is, wat net so passievol is oor fiksheid en gesondheid as oor musiek. Wanneer hy nie sing nie, werk hy aan sy besigheid en studies, skryf hy nuwe musiek en beplan hy aan ’n nuwe musiekvideo.

Die musiekbedryf het vir Zander Swanepoel geleer dat dit belangrik is om jou drome te volg en te doen waarvoor jy lief is. Hy wil graag plaaslike musiekharte verower met sy besonderse stem, mooi lirieke en unieke klank. As Pot se Deksel enige aanduiding is van wat hy beplan, is hy beslis op die regte pad om ’n sukses van sy musiekloopbaan te maak.

Pot se Deksel is beskikbaar op alle digitale platforms.

Sosiale Media: Facebook | Instagram | YouTube

Leave a Reply

error: Content is protected !!