Die sanger en liedjieskrywer, Cindy-Louise, wat tans in Nederland woon, is besig om plaaslike radiogolwe oor te neem! Haar eerste enkelsnit en video,  Make It Out Here Alive, vanaf haar debuut album, Humanity, is vroeg in Februarie 2021 vrygestel en almal het dadelik notisie geneem van haar ongelooflike talent.

Make It Out Here Alive gaan oor daardie tye wanneer jy voel dat jy nêrens inpas nie. Dit word baie slim vertel deur die oë van ’n hoërskoolkind wat konstant geboelie word en wil wegkom van alles af.

“Die liedjie gaan oor ’n tiener wat anders is en met kreatiewe oë na die wêreld kyk. As gevolg hiervan, word sy geïgnoreer in die klas. Sy probeer om dit uit te blok en van die seer ontslae te raak deur vir ’n rukkie te probeer ontsnap van haar realiteit,” verduidelik sy. “Die liedjie ondersoek die fyn balans tussen oorlewing en om oor die afgrond gedruk te word.”

Alhoewel die tema universeel is, is Make It Out Here Alive vir haar baie persoonlik. Haar eie skoolloopbaan het hierdie Indie-rocksnit geïnspireer. “Die lewe gaan daaroor om jouself te aanvaar, maar dis moeilik wanneer jou maats jou nie ondersteun en verstaan nie. Al genees emosionele wonde ook met tyd, bly daar altyd letsels agter. Hierdie enkelsnit is my boodskap aan die wêreld dat die lewe vol goeie en slegte herinneringe is – dit is wat ons maak wie ons is. Soms is die sterkste ding wat jy kan doen om jou swakhede met ander te deel.”

Sy glo egter dat die boodskap oop is vir interpretasie en dat luisteraars van alle ouderdomme by die liedjie sal aanklank vind. “Die omstandighede hoef nie dieselfde te wees vir mense om betekenis in ’n liedjie te vind nie. Ons kan onsself dikwels raaksien in die lirieke – maar dit beteken nie dat ons dieselfde ervaring gehad het nie.”  

 Make It Out Here Alive word gekomplementeer deur ’n musiekvideo deur Zowik Abramov (wat ook die regisseur is) van Klein Media. Dit plaas klem op die verskil tussen om vasgekeer te voel en vryheid te vind.

“Die skooltoneel is bedoel om klein en beknop te voel, in teenstelling met die buitelugtoneel wat vryheid verteenwoordig. Omdat die liedjie daaroor gaan om net jouself te wees en uiting te gee aan jou emosies, wou ek dit ook graag in die video laat deurkom,” vertel sy. “Ek hou nie daarvan om vir mense te sê wat om te dink nie en wou daarom nie ’n soliede storielyn hê nie, maar eerder iets magies en kunstig. Die video impliseer dat as jy jouself toelaat om vry te wees, jou gees kleurvol en kreatief kan wees. Kykers is egter welkom om hulle verbeelding te gebruik en hulle eie interpretasie van die video te hê.”

Kyk die video hier:

Die album, Humanity, word op 19 Maart 2021 vrygestel. Omdat die album op ’n sentrale tema fokus, is dit baie uniek – dit gaan oor die menslike natuur en die emosies wat mense ervaar: liefde, hartseer, geluk, rebelsheid, stres, teleurstelling, en verandering. Dit bied verder ook ’n interessante mengsel van genres, wat wissel van indie-rock tot pop, jazz, klassieke musiek en elektro-pop. Wat dit nog meer spesiaal maak, is die feit dat daar niemand is met dieselfde klank as Cindy-Louise nie. “My styl is net so uniek soos die struktuur van my musiek en my metodes daaragter,” sê sy.

Dieinspirasie agter die album was om al haar gevoelens op een speellys te sit en hierdie gevoelens deur haar liedjies oor te dra. “Ek gebruik my musiek om te sê hoe ek voel en met hierdie album wou ek vir luisteraars sê dat hulle nie alleen is nie. Die titelsnit is juis gebore uit my begeerte dat luisteraars menslikheid in my musiek moet vind en die ware betekenis daarvan moet ontdek.”

Sy het al die snitte op die album self geskryf. “Ek het omtrent vyftien liedjies in totaal geskryf en besluit om tien te gebruik. Die skryfproses het ses maande geneem en die liedjies is in drie sessies opgeneem.”

Die kunstenaar, wat tans in Nederland woon, het nou saam met Clinton Nicholas Watts en Andre Remesses Scheepers gewerk aan die album. “Ek kon nie Suid-Afrika toe gaan vir die opnames nie, so dit is gedoen by Hal 5 Studio deur FRANK DE JONG.  Ek het dit toe vir Andre en Clint gestuur om mee te werk. Dit was nogal ’n unieke projek en, ten spyte van die struikelblokke op ons pad, was dit baie pret om van deel te wees. Die album is binne nege maande voltooi.”

As jy haar vra watter liedjie haar gunsteling is, deel sy dat dit afhang van die bui waarin sy is. “Op die oomblik hou ek baie van ‘The Mask’, wat ’n jazz-gevoel het, en ‘Loving Me In Everyway’, wat ’n pragtige ballade is.” Sy glo dat luisteraars dieselfde sal voel. “Elke liedjie het iets spesiaal, maar waarna ek luister bepaal wat op daardie oomblik gewild is. Ons is almal net mense en ons emosies en smaak verander gereeld.”

Sy meen dat dit nogal uitdagend was om die regte liedjies vir die album te kies, maar dat sy ’n formule gevolg het om dit makliker te maak. “Wanneer ek ’n liedjie skep, weet ek al klaar in my kop wat die eindresultaat moet wees – wat ek voel, watter instrumente ek hoor en watter tipe gevoel ek wil hê en hoor. Dit help my baie met die wysie en lirieke. Wanneer ek die finale snitte vir die album kies, fokus ek daarop om verskeidenheid in te sluit, wat klank en tema aanbetref. Ek kies natuurlik nie net my gunstelinge nie, maar vra ook my vervaardiger se raad om die perfekte keuse te maak.”

Die projek was natuurlik nie sonder sy uitdagings nie. “Om tien liedjies gelyk op te neem was nogal moeilik. My kop was die heeltyd besig,” sê die sangeres. “Daar was so baie wat op een slag gebeur het. Dit was vir my belangrik om by my visie te hou en gelukkig het ek saam met ’n ongelooflike span gewerk wat my heelpad ondersteun het.”

Volgens haar was die grootste uitdaging om dié projek geheim te hou. “Jy kan niks met diegene deel wat nie saam met jou aan die projek werk nie. Dit was so moeilik, omdat ek baie opgewonde was om my musiek met almal te deel. Ek is baie verlig dat dit nou in die ope is,” lag sy.

Saam met Humanity, het Cindy-Louise ook besluit om die tweede enkelsnit vanaf die album vry te stel. Loving Me In Everyway is ’n popballade wat daaroor gaan om aan die ontvangkant van onvoorwaardelike liefde te wees.

“Nadat ek Nederland toe verhuis het, het ek baie alleen gevoel,” verduidelik sy. “My man en ouers was in Suid-Afrika. Ek het eendag in die sitkamer gesit en dink oor die liefde wat ek, regdeur my lewe, van hulle af ontvang het. Hulle liefde is 100% onvoorwaardelik en ek weet dat ek altyd op hulle kan staatmaak. Die liedjie is my manier om dankie te sê dat hulle my altyd ondersteun het, hulle drome opgegee het om my eerste te stel, my altyd laat lag, my getroos het in hartseer tye en vir my lief was deur dit alles. Dit is die mees persoonlike liedjie wat ek nog ooit geskryf het.”

Sy glo dat die liedjie op een van twee maniere by luisteraars sal aanklank vind – “as iemand wat dankbaar is omdat hulle hierdie tipe liefde ervaar het of as iemand wat daarna smag. Liefde is die sterkste emosie wat daar is.”  

Loving Me In Everyway word ook gekomplementeer deur ’n pragtige musiekvideo. Monika Vaskorova was die regisseur en dit is in Amsterdam verfilm. “Monika het die mooiste plek gekies om die video te skiet en al was daar baie oop spasie, het ons dit intiem en eenvoudig gehou. Die beligting in die video is baie besonders.”

Humanity is beskikbaar op alle digitale platforms

Sosiale Media: Facebook | Instagram | Twitter | Website | Youtube

Leave a Reply

error: Content is protected !!