Zybrandt se nuwe enkelsnit Anders is onlangs uitgereik en die video van die liedjie is pas bekend gestel.

Zybrandt vertel dat musiek by hom gewoonlik as `n emosie begin. “Die woorde vloei dan van daar en ek probeer om dit dan so te skryf, dat elkeen wat dit hoor moontlik ook sy eie storie daarin sal kan vind. Die liedjie Anders het ontstaan rondom die idee dat selfs al hou sommige verhoudings ‘n leeftyd, verander mens self binne-in daardie verhouding. Fisies word ons ouer en emosioneel en spiritueel groei en verander ons ook. En paartjies groei nie altyd teen dieselfde spoed of in dieselfde rigting nie. Tog bly mense soms, en deesdae ook net soms, bymekaar. Soms gaan mens moet leer om aan te pas en ook oop te wees oor jou eie ‘anders.’ Anders is daar net geen punt nie.

Zybrandt het al van kindsdae af klavier gespeel en musiek gemaak.  Op 15 het hy sy eerste elektriese kitaar gekry. Hy onthou dat hy elke dag vir ure daarop gespeel het. “Ek het selfs in die donker met die kitaar gelê en my vingers op en af oor die snare laat hardloop. Tog was ek stil en eenkant en die idee om ooit `n band te begin was belaglik. Dis mos net iets vir die cool ouens!”

Baie jare later en Zybrandt het sedert die 90`s reeds in drie verskillende bands gespeel: Velve, Downonthefirst en December Lanterns.  Die Afrikaanse gogga het gebyt terwyl die groep December Lanterns met opnames besig was. “Ons het toe sommer ‘n paar Afrikaanse tracks ook gedoen,” vertel Zybrandt. “Ons het wel eers heeltemal op December Lanterns gefokus en nou is die tyd reg vir my om my Afrikaanse musiek `n kans te gee. Ek is baie opgewonde hieroor! Ek het besluit om onder my eie voornaam, Zybrandt, te sing, want dit is ook my familienaam. Ek hou van tradisie. My geboorte name is Zybrandt Lourens Lombaard. Op skool was ek altyd skaam daaroor. Maar vandag het ek ook self `n seun met dieselfde naam. Hy is die 5de Zybrandt in ons familie-lyn.

Zybrandt het by Hunter Kennedy gaan aanklop vir raad met sy Afrikaanse opnames. Kennedy het baie van sy lirieke gehou en het voorgestel dat hy met Fred den Hartog van Die Heuwels Fantasties aan die produksie van die liedjies werk.

Zybrandt het ‘n waardevolle bydra om te maak aan Afrikaanse poësie. Ek was onmiddelik beïndruk met sy lirieke. Freddy se smaakvolle verwerking van Zybrandt se bedrieglik eenvoudige akoestiese skrywe wek ‘n gevoel van euforie. Dis eerlik en kompleks en herinner aan die goue era van  Afrikaanse ‘musiek en liriek’ – met ‘n knypie donkerte by vir konteks.” – Hunter Kennedy.

Zybrandt vertel dat die musiekvideo vir Anders die stelling meer vanuit ‘n ander oogpunt benader. “Heinrich Laubscher was die regisseur en Hugo Brand die DOP. Kelsey-Sarah Nunn het as kuns-regisseur ‘n wonderwêreld geskep waarin verskillende dele van die video afspeel. Die storie in die video wys hoe die hoofkarakter deur verskillende oomblikke in sy lewe stap waar hy deel is van alles, maar ook heeltemal verwyder daarvan is. Daar is ‘n hele paar verskillende tonele in die video wat alles op ‘n artistieke manier saamgevleg word. Die span se visie ten opsigte van hoe hulle dit uitbeeld is fenomenaal en ek is regtig trots om deel van die video te wees.

Zybrandt werk tans aan nog Afrikaanse musiek. “Ek skryf soveel as wat ek kan vir opnames. Ek werk met die wonderlikste span. Nie net oor hulle talent nie maar hulle is daarbysaam ook amazing mense. Dit inspireer my en ek sien baie uit na hierdie jaar!”

Anders is beskikbaar op alle digitale platforms.

Sosiale Media: Facebook | Instagram | YouTube | Webtuiste

Leave a Reply

error: Content is protected !!