Die Centurion-sangeres Lezahn van der Merwe, wat nou bekendstaan as Zahn, het met haar derde enkelsnit n Hart Weer Heelmaak bewys dat sy nie net nog ‘n vis-en-skyfies popsangeres is nie.

Met n Hart Weer Heelmaak  vestig Zahn haar as een van die land se beste kontemporêre sangeresse en sy is ‘n bewys dat haar stem deur die jare ‘n volwassenheid bereik het wat enige musiekliefhebber hoendervleis sal gee.

Dié sangeres, wat deesdae net so bekend is vir die so-wyd-soos-God-se-genade gaping tussen haar tande, het met haar tweede enkelsnit Dis Hoe Jy Die Wêreld Verander op radiostasies se trefferlyste geboer. Die liedjie het byvoorbeeld op die plaaslike Pretoria-stasie Lekker FM vir weke die nommer posisie beklee en het selfs musiekstof in die oë van sangers soos Steve Hofmeyr geskop.

‘n Hart Weer Heelmaak beloof om net so ‘n treffer soos Dis Hoe Jy Die Wêreld Verander te wees. Zahn het gesing, die publiek het geluister en die gevolgtrekking: sy het ‘n donker Lindt-sjokolade stem; sy is nie eksie-perfeksie Hollywood nie en daardie glimlag kan ‘n ysman laat smelt.

Hieroor lag Zahn lekker: “Sjoe, ek dink die publiek vind op ‘n manier aanklank by my musiek en menswees omdat ek nie verander nie. Ek is wie ek is.”

My musiek kom uit my hart uit en daarom sal ek altyd nederig bly, maak nie saak of ek enige musiekhoogtes gaan bereik of nie.

Zahn moes die gruispad loop voordat daar ‘n musiekliggie op die horison was. “Ek het soms moed opgegee, iets anders probeer – ek het self vir ‘n ruk as au pair gewerk – maar ek het altyd bly sing en geoefen, al was dit net in my eie sitkamer of voor die spieël. Ek het net besluit om nie my drome prys te gee nie.”

Die liedjie, wat deur die bekroonde liriekeskrywer Joshua Oosthuizen van Oriison Productions geskryf het, pas haar ryk stem so goed soos die Cat Woman se lyfpakkie. “Toe ek vir die eerste keer na die liedjie geluister het was dit asof Joshua dit net vir my geskryf het. Dit was asof my lewe verby my geflits het. Ek het besluit dat ek nooit weer my talente onder ‘n maatemmer moet wegsteek nie.”

Die liedjie handel juis oor ‘n kunstenaar wat tot die besef kom dat haar woorde en musiek mense kan help om hulle harte te heel.

Een van die versreëls vergestalt op ‘n manier ook Zahn se lewe en die manier waarop haar musiekloopbaan gegroei het: “…maar trap diep spore, ek weet dis nie verniet nie”

Zahn is ‘n stem wat nie gou gaan stil raak nie en met ‘n Hart Weer Heelmaak gaan sy beslis weer ‘n paar nuwe musiekharte verower.

‘n Hart Weer Heelmaak is beskikbaar op alle digitale platforms.

Sosiale Media: Facebook | Instagram | TikTok 

Leave a Reply

error: Content is protected !!