Met Vicky Sampson, Brandon October, Louis Loock, Anna Davel, Zimbini Ndiyehlela, Suidoosterfees Talentsoektog-finaliste Bilqees du Plessis en Caitlyn White, die Suid-Afrikaanse Jeugkoor, SboNdaba-dansers gechoreografeer deur Elvis Sibeko, Dance for All, Schalk Joubert (baskitaar), Blake Hellaby (klavier), Kevin Gibson (dromme), Frank Freeman (kitaar) en Anjulie Vos (tjello)

27 April is Vryheidsdag – ’n nasionale geleentheid wat hoop vir alle Suid-Afrikaners simboliseer. Vanjaar vier Suidoosterfees hierdie spesiale dag met ’n skouspelagtige uitvoering van ligte en klassieke musiek, opera en dans, aangebied deur Artscape se top uitvoerende kunstenaars en van die land se gewildste sangers, musikante en kore. Kom vier ons land en sy talent soos net die Kaap en sy mense kan!

Konsert van Hoop, die Suidoosterfees se verskeidenheidskonsert wat op Vryheidsdag by die Kunstekaap Operahuis op die planke is, se geselskap sluit die gewilde sanger Vicky Sampson in, tesame met bekroonde kunstenaars soos die klassieke sanger, Louis Loock van Romanz-faam, die geliefde Anna Davel en Brandon October, en die Afro-popsanger Zimbini Ndiyehlela.

Anna Davel | Foto Verskaf

Vicky Sampson, een van SA se bekendste sangers, sê: “Dit is altyd ’n voorreg om die verhoog met kunstenaars van verskillende agtergronde en dissiplines te deel. Die verskeidenheid en uniekheid van ons pragtige land inspireer my. Mag hierdie konsert van hoop ons verenig en ons herinner hoe gelukkig ons is om die lewe te kan vier.”

Vicky Sampson | Foto Verskaf

Brandon October, wat bekendheid verwerf het deur sy deelname aan Idols, sien uit om vanjaar by die fees op te tree: “Konsert van hoop gaan gehore trakteer op sang en dans deur van ons land se gunsteling-kunstenaars. As daar een vertoning is wat jy nie wil misloop nie, is dit dít!”

Brandon October | Foto Verskaf

Die konsert spog ook met finaliste van die Suidoosterfees se Talentsoektog-kompetisie, Bilqees du Plessis en Caitlyn White. Dié sangers het beoordelaars tydens die kompetisie beïndruk met hul talent. Bilqees is opgewonde oor die blootstelling wat Konsert van hoop meebring. “Dis vir my ’n wonderlike geleentheid om kennis op te doen op ’n professionele vlak,” sê sy. “Dit is nie elke dag dat ’n meisie van Delft die geleentheid kry om saam met sulke groot kunstenaars op te tree nie!”

Nog ’n hoogtepunt is die teenwoordigheid van die Suid-Afrikaanse Jeugkoor, en gehore kan veral uitsien na hulle spesiale uitvoering van “My African Dream” saam met Vicky Sampson. Die jeugkoor is bekend vir hul bevordering van diversiteit, nie net deur hul repertoire nie, maar ook omdat hulle 54 lede, wat uit hoërskoolleerders en studente saamgestel is, van oral in die land kom.

Dié koor is ’n inspirerende voorbeeld van die bevordering en afronding van jong talent en voorsien jong mense van ’n platform om hul talent aan die publiek te bring. Koorleier Phil Robinson raak filosofies wanneer hy oor Jeugkoor-uitvoerings praat: “Kuns het ’n manier om ons te red op soveel maniere. Dit kan ’n baken van redding wees omdat dit die potensiaal het om die mooi terug te bring na die wêreld om ons. En dit op sigself is ’n manier om bande te smee en mense te verenig.”

The South African Youth Choir | Foto Verskaf

Die kunstenaars word ondersteun deur ’n uitmuntende orkes met die bekroonde baskitaarspeler Schalk Joubert en die pianis Blake Hellaby as lede. Die veelsydige Anna Davel, bekend vir die grootskaalse produksies wat sy behartig, is die regisseur.

Energieke dansnommers deur studente van Dance for All dra by tot die betowering. Dance for All lei nie net professionele dansers op nie; hulle skep met dié kunsvorm glinster-geleenthede vir kinders uit onderbediende gemeenskappe. Allison Hendriks, Dance for All se hoof, sê die produksie bring presies dit wat in die titel is – hoop – aan haar studente. “Om die waarheid te sê, dit boesem meer as hoop in, dit inpireer ook ons jong dansers, en hulle sien vreeslik uit om op dieselfde verhoog as die bekende name op te tree.”

Dansers van die SboNdaba-geselskap onder leiding van choregraaf Elvis Sibeko, sal ook hul deel bydra. Sibeko, stigter van die Elvis Sibeko Studio, is bekend vir sy innoverende werk wat Afrika-verhale treffend in dans vasvang.

Werke van gewilde Suid-Afrikaanse musikante soos PJ Powers en Hotline, Bright Blue en Abdullah Ibrahim sal in Konsert van hoop uitgevoer word, asook oorspronklike liedjies deur Vicky Sampson en Schalk Joubert. Vicky Davis, die produksiebestuurder, sê: “Gehore kan uitsien na ’n reeks immergroen treffers wat ’n boodskap van hoop en inspirasie aan Suid-Afrikaners bring. Maak seker jy kom vier vanjaar Vryheidsdag saam met ons!”

Taal: Afr, Eng
Plek: Kunstekaap Operahuis
Datum en tyd: 27 April 13:00
Tydsduur: 60 min
Prys: R140 | R100

Vir meer inligting, besoek www.suidoosterfees.co.za; besprekings by Computicket.

Leave a Reply

error: Content is protected !!