Die opwinding is tasbaar in Afrikaanse vermaakkringe, want Die Kaplyn-musiekblyspel maak oor ’n week sy buiging by die AfriForum Teater in Pretoria.

Vanaf 26 April 2023 kan teater- en musiekliefhebbers uiteindelik die skeppers van Die Gelofte-musiekblyspel, wat onlangs tien nominasies vir die 2022 Naledi-teatertoekennings ontvang het, se nuutste projek in lewende lywe sien.

Die Kaplyn, ’n hartroerende verhaal wat volg op die gebeure wat tydens die Grensoorlog in die 1980’s plaasgevind het, word met trots aangebied deur AfriForum en Inhoud Huis Musiek en beloof om die sukses van sy voorganger te oortref.

Die teks is deur Johan Vorster en die regisseur Jannes Erasmus geskryf, terwyl die musiek en lirieke deur Vorster en Jacomien de Wet behartig is, die orkestrasie deur Francois Lessing en musiekregie deur Johan en Francois.

“Teatergangers wat van ‘Die Gelofte’ gehou het gaan beslis waarde kry en gaan ’n sakdoek van die begin af moet saambring. ’n Fiktiewe storie word teen die agtergrond van die Grensoorlog vertel. Deur dié verhaal word hulde aan die helde gebring wat onder baie van ons dakke woon, maar waarvan ons so min weet. Ons voel bevoorreg om weer die kans te kry om ’n storie uit ons nabye verlede in die vorm van ’n musiekblyspel te kan vertel,” sê Vorster en De Wet, die vervaardigers agter dié splinternuwe produksie.

Buiten vir Johan wat self ook in die produksie te sien is, sluit die rolverdeling ook ander indrukwekkende akteurs in, waaronder Ilán van Staden (Die Gelofte-musiekblyspel), Jackie-Lulu en vele meer.

Oud en jonk sal aanklank vind by hierdie uitsonderlike verhaal, wat deur middel van ’n puik kombinasie van draaiboek, musiek en toneelspel die kyker op ’n nostalgiese reis sal neem wat hul sal bybly lank nadat die gordyne gesak het.

 Die Kaplyn is hoopgewend, vol lewenslesse en gee ’n empatiese blik op gesinne se opofferings tydens die grensoorlog, terwyl dit ook die gehoor sal vermaak met puik musiek en puik akteurs,” sluit Kallie Kriel, uitvoerende hoof van AfriForum, af.

Kaartjies vir dié musiekblyspel is nou aanlyn beskikbaar. Moet dit nie misloop nie!

Leave a Reply

error: Content is protected !!