Musiek is ’n universele taal wat harte kan raak en bemoediging kan bring as dit die regte ore bereik.

Die kuns is egter om jou boodskap só te verpak dat soveel mense moontlik dit hoor en met ander deel.

As jy nog altyd ’n liedjie wou skryf of dalk hierdie vaardigheid wil opknap, is dit nou jou kans!

Maroela Media en Akademia se skryfskool, Skryfnet, spog met ’n opwindende kursus wat gemik is op enigiemand wat graag betekenisvolle musiek wil skep.

Skryf ‘n Liedjie, wat vanjaar vir die tweede keer aangebied word, is ’n unieke leerprogram wat op 6 Mei 2024 aanlyn afskop en op 7 en 8 Junie 2024 afsluit met ’n tweedaagse praktiese werkswinkel by Maroela Media se kantore in Pretoria.

Die inhoud van die kursus is ontwikkel deur Clive Ridgway en is verwerk en word aangebied deur die gewilde musikant en liedjieskrywer, Deon Meiring.

Deon het op laerskool sy eerste liedjies begin skryf. Hy’t gedink dit gaan help met sy sukkelende romantiese loopbaan. Dit het nie, maar hy’t nogtans aanhou skryf. Vandag is hy getroud en sy liedjies speel regoor Suid-Afrika met sy gevestigde solo-projek en groepe Glaskas en Dans Dans Lisa. Dié begaafde musikant se musiek is al in films en op TV gebruik en hy het al talle opkomende liedjieskrywers begelei om hulle vaardighede te verfyn. Hy skryf en bring ook steeds gereeld nuwe musiek uit.

Gedurende die vier weke aanlyn sessie sal Meiring deelnemers begelei om hulle idees om te skakel in treffende lirieke.

“By verlede jaar se liedjieskryfkursus het ons gesien hoe ’n hele paar liedjies soos skoenlappers uit glasbottels vrykom. Daar was ook ’n paar ruspes wat ons moes voer of waarvoor ons geduldig moes wag. Ek het aanvanklik liedjies begin skryf omdat ek gelukkig glad nie geweet het dit kan moeilik wees ook nie. Elke keer wat ek die kans kry om saam met nuwe liedjieskrywers ’n pad te stap leer ek weer die gewoonte van sukkel af. Dan beleef ons saam hoe toweragtig dit kan wees om daai krabbels in die notaboekie ’n kans te gee om gesing en gehoor te word. Sommige van die skrywers wat verlede jaar opgedaag het se liedjies is selfs nou beskikbaar op ons fone, radio en TV. Ek sien uit om hierdie jaar nog ’n klomp liedjies en hulle skrywers te leer ken,” sê hy.

Tydens die naweek se kontaksessie, waartydens hy bygestaan sal word deur die gewilde sanger Jako Meyer, sal al die nuwe skeppings getoonset en afgerond word tot ’n werkbare liedjie wat voorgelê kan word vir opname. Die gesogte publisiteitsagentskap, Starburst Promotions, sal ook gedurende hierdie sessie kom gesels oor die belangrikheid van behoorlike bemarking van jou musiek.

Meyer is ’n gewilde sanger en musikant wat, buiten vir sy sololoopbaan, al deel was van verskeie groepe soos Flip a Coin, Die Rotweilers, Moses Metro Man en Die Wyndigters (saam met Deon Meiring). Hy het al verskeie radiotreffers uitgereik, asook twee ateljee-albums.

Hy voeg by: “Dis vir my ’n groot voorreg om weer deel te wees van vanjaar se kursus. Verlede jaar was daar soveel talent, wat met ’n bietjie leiding en aanmoediging hul eie grense verskuif het om beter skrywers te word. Ek sal aanbeveel dat enige skrywer hierdie kursus sal aangryp om die selfvertroue tot liedjieskryf na ’n volgende vlak toe te vat.”

Deelnemers sal ook die kans kry om hulle musiek met die res van die groep te deel om ’n gesellige koolstoof en daar gaan ook ’n prys wees vir die beste liedjie.

Skryfnet se eerste liedjieskryfkursus het in Mei 2023 plaasgevind en teen die einde van die jaar ʼn liedjie en musiekvideo, Om myself te vind, opgelewer uit die pen van die 21-jarige Elsje du Toit.

Nog ’n deelnemer, Weco van Basten, het in Februarie 2024 die rock-snit Lê my neer onder sy verhoognaam Victor Bravo uitgereik.

As jy ook graag jou liedjieskryf- en musiekdrome wil waar maak, bespreek hier. Deelnemers wat die kursus voltooi, ontvang ʼn sertifikaat van Akademia.

Inskrywings sluit op 3 Mei 2024. Koste beloop R5 300 per persoon en sluit middagetes en ʼn braai op die Vrydagaand van die praktiese sessie in. Vervoer en verblyf moet egter self gereël word en ’n lys van slaapplek in die omgewing sal met deelnemers gedeel word.

Leave a Reply

error: Content is protected !!