Sharine Barnard - KillerSharine Barnard - Killer

Na die suksesvolle vrystelling van haar derde enkelsnit en musiekvideoPray – in 2021, is die talentvolle sanger, liedjieskrywer en diereliefhebber, Sharine Barnard, terug in die kollig met ’n sensuele nuwe treffer.

Haar nuutste vrystelling, Killer, ondersoek die kontrasterende eienskappe waaruit elke vrou bestaan. Die snit, verduidelik die kunstenaar, is geïnspireer deur drie verskillende idees. “Eerstens, gaan die liedjie oor die kontrasterende eienskappe in elke vrou. Dit gaan oor hoe vroue eintlik pragtig is (binne en buite), maar selde vir hierdie unieke skoonheid waardeer word,” deel sy. “Ironies genoeg versinnebeeld ons op dieselfde tyd die goeie en die slegte, ons is alles wat jy liefhet en haat, en alles wat jy wil hê en nie wil hê nie.”    

Tweedens, gaan dit daaroor om die letsels van wonde wat die lewe uitdeel met trots te dra en om elke keer wanneer jy val sterker en met meer passie op te staan. “Jy moet altyd uitdagings oorkom, ongeag van wat die lewe na jou kant toe gooi.”

Laastens, reflekteer die liedjie op wie ons (as vroue) is en wat daar van ons verwag word om te wees. “Ons is ma’s, minnaresse, werkers, sprekers, luisteraars en sexy sensuele wesens waarvan verwag word om al die balle in die lug te hou, sonder om ooit moeg te lyk of voel. Ons bekommer ons oor ons gesinne, versorg hulle en bid vir hulle, sonder om veel meer as waardering terug te verwag,” sê sy. “Killer verteenwoordig ons innerlike en uiterlike skoonheid, al stel ons hoë standaarde vir onsself. Ons moet nooit vergeet hoe mooi ‘vrou-wees’ ons maak nie.”

Volgens Sharine, bestaan die liedjie uit ’n versameling betekenisvolle aanhalings wat relevant is tot die temas wat in die liedjie aangespreek word. “Ek en my oudste dogter is mal daaroor om in aanhalings te praat. Wanneer ons filosofies raak oor die lewe, duik daar altyd een of meer gepaste aanhalings in ons gesprek op,” verduidelik sy. “In die winter van 2021 het ons een aand voor die kaggel gesit en aanhalings uitruil. Daardie aand het ek effens moedeloos gevoel, en besluit om ’n liedjie te skryf oor die emosies wat ek ervaar wat van hierdie sêgoed insluit. Oorspronklik, het ek die liedjie “I” genoem omdat dit oor my gevoelens en die ironie van liefde en die lewe gaan, maar later het ek besluit dat Killer ’n meer gepaste titel sou wees. Ek is baie filosofies en hou daarvan om oor die lewe, wat dit vir mense beteken en hoe hulle dit interpreteer te skryf.” 

Alhoewel Killer se lirieke ernstige, universele, kwessies aanspreek, is die wysie sensueel en opgewek. “Ek dink dat die snit sal aanklank vind by ’n wye gehoor. Toe ek ’n paar aande later voor die klavier sit om die liedjie te komponeer, het ek geweet dat ek wou hê dat dit sexy en sensueel moes wees, maar terselfdertyd ook opgewek en inspirerend. Die musiek moes die storie vertel, maar ook die ironie van die lirieke weerspieël.”

Kyk die video hier:

https://www.youtube.com/watch?v=x28W9JKo4_Y

Sharine het Jan Kempdorp grootgeword, waar sy ’n sorgvrye kinderlewe gehad het. Alhoewel sy altyd mal was oor musiek, was dit nie die hooffokus van haar lewe nie – sy het die afgelope twintig jaar kinders grootgemaak, ’n veilige hawe geskep vir leeus en ander groot katte en verskeie suksesvolle besighede gebou wat sy steeds bedryf. Dit het verander gedurende grendeltyd, toe hierdie ma van vier uiteindelik tyd gehad het om asem te skep en weer haar musiekpassie uit te leef. Sy het toe begin skryf oor die lewe en die liefde en die res is geskiedenis.

Buiten vir haar liefde vir musiek, is Sharine – wat die mede-eienaar is van Bagamoya Wildlife Estate – ook passievol oor diere. Sy is ook baie passievol oor sport en gesondheid en is mede-eienaar van ’n Osoonterapie-kliniek – Ozone Clinic – wat mense help om gesonder te wees. Naweke werk sy ook as sjef by haar eie restaurant.

Ten spyte van haar vol skedule, wat verskeie uitdagings bied, het die sangeres ’n positiewe uitkyk op die lewe.

Tans is sy besig om aan nog twee enkelsnitte te werk en beplan sy om aan te hou om die verskillende aspekte van haar lewe te geniet. Sy wil ook graag mense motiveer met haar musiek… en met Killer kry sy dit beslis reg om aan hierdie doelwit te voldoen.

Killer kombineer skoonheid, intensiteit, briljante aanhalings en kontrasterende elemente wat eintlik ironies is. Met hierdie liedjie, moet jy tussen die lyne lees, die krag van die lirieke waardeer en jou eie lewenservaring gebruik om die kontras en waarheid in die boodskap raak te sien en te verstaan,” sluit sy af.

Die liedjie is nou aanlyn beskikbaar.

Leave a Reply

error: Content is protected !!