Karel Bester - Afrikaner OutlawKarel Bester - Afrikaner Outlaw

Karel Bester se baritoon is bedrieglik. As dit nie was vir die kraakvars produksie nie, sou ek jou nie blameer het as jy jouself misgis om te dink Afrikaner Outlaws is ’n lang verlore Afrikaanse Johnny Cash b-side nie. Karel is ’n volbloed volk-punk baster met Oppikoppi erfenis en Amerikaanse spoed-country afkoms.

Met so bietjie boeremusiek ingemeng vir stamtrots. Afrikaner Outlaws is inderdaad tydloos. Alhoewel dit klink asof Klipwerf Boere Orkes vir Kris Kristofferson begelei, bestaan dit in ’n eteriese ruim. Dis net-net tasbaar. Dit moedig jong afrikaans sprekendes aan om tradisie in rebellie te vind. Die spreker in die lied is taai. ’n Hartseer harlekyn. ’n Charismatiese kroegvlieg. Sy sweet word getap as batterysuur. Hy dra ’n luislang as ’n gordel, maar hy is nie vlak nie. “Ons skaaf en skraap die pad wat ons verdien”.

’n Bedrieglike Möbius strip van ’n frase. Dit vang die erfsonde, skuldgevoelens, ontneemde stemreg en uithouvermoë vas van ’n generasie van Afrikaans sprekendes. Miskien is die beste manier vorentoe agtertoe? Een ding is verseker, hierdie lied gaan heel boontoe op die charts.

Karel Bester is ‘n 27 jarige voormalige LLB-student wat tydens sy tweede laaste jaar van sy studie besef het sy hart lê nie by die regte nie, en dat hy eerder voltyds sy passie vir musiek wil uitleef.

Afrikaner Outlaws is beskikbaar op alle digital platforms.

Leave a Reply

error: Content is protected !!