Hey Sonneblom - DroomsindroomHey Sonneblom - Droomsindroom

Die broer-duo, Droomsindroom, het pas hul enkelsnit, Hey Sonneblom, vrygestel en in dié enkelsnit wil Kirsten en Kyle Schlebusch luisteraars van hul probleme laat vergeet.

Hey Sonneblom is ’n goedvoelliedjie en die sonneblom waarna daar verwys word is ’n metafoor vir die persone in elkeen van ons se lewens wat somer én sonskyn gedurende jou donkerste tye inbring,” het Kirsten vertel.

Hierdie mense besef nooit regtig hoe helder hulle in ons lewens skyn nie en dit is juis dít wat hulle so spesiaal maak,” het hy bygevoeg.

Kirsten het Hey Sonneblom geskryf na afloop van ’n seevakansie en sy inspirasie was juis om om daardie vars gevoel van vakansie en ontspanning met musiek vas te vang.

“Die doel om te skryf oor die ‘sonneblom’-mense in elkeen van ons se lewens was om ’n parallel te trek met daardie gevoel van totale geluk wat mens ervaar tydens ’n seevakansie en die ‘sonneblom’-mense in ons lewens,” het hy gesê.

Volgens hom is dit belangrik dat mense elke nou en dan ’n oomblik moet neem om hulself te herinner dat die lewe nie te ernstig opgeneem moet word nie.

Kyk die musiekvideo hier:

“Die belangrikste ding is dat jy jouself moet geniet in hierdie deurmekaarspul wat ons lewe noem. As jy ’n sonneblom vir iemand anders kan wees, het jy ’n waardevolle lewe geleef,” het Kirsten gesê.

Kirsten is die oudste van die twee boeties en het geen bekendstelling in die Afrikaanse musiekbedryf nodig nie. Hy het veral bekendheid verwerf met sy enkelsnit, Mia, wat hy in 2019 vrygestel het. Dit was egter kort daarna, met die aankondiging van die Covid-19-inperkings dat hy en Kyle saam begin musiek maak het.

Kyle is tans op skool maar ewe opgewonde oor sy en sy broer se nuwe opwindende reis.

“Ek dink mense is lus om weer bietjie gelukkig te wees. Mense wil dans, kuier, lief hê en weer bietjie iets voel. Dit is wat ons graag met hierdie lied vir mense wil gee,” het hy gesê.

“Droomsindroom is hier om die Afrikaanse musiek bedryf op sy kop te draai,” het hy opgewonde bygevoeg.

Hey Sonneblom is nou as enkelsnit en musiekvideo op alle musiekstromingsdienste beskikbaar.

Leave a Reply

error: Content is protected !!