Ek Wens - Ray Dylan

Na meer as drie dekades in die musiekbedryf ken Ray Dylan die wenresep vir die perfekte treffer. Dit is daarom geen verrassing dat sy nuutste enkelsnit, Ek Wens, reeds voor vrystelling die musiekbedryf aan die gons gehad het nie.

Hierdie popsnit, uit die pen van Sunette Bridges, gaan oor daardie spesiale soort liefde wat jou vlinders in die maag gee en hy is opgewonde om die uiteindelik met die publiek te deel.

“Dié liedjie laat my weer soos ’n kind voel wat op soek is na daardie “ruimte liefde” waarvan almal praat,” vertel hy. “Dit is ’n treffer wat geen oor kan weier nie. Tot ek, as kunstenaar, het geweet hier kom ’n hit toe ek dit vir die eerste keer hoor.”

Ek Wens, wat in Amerika vervaardig is, is reeds die vierde enkelsnit wat die musikant saam met Vonk Musiek uitreik en volg in die voetspore van emosiebelaaide snitte soos Vir Eens In My Lewe en Laaste groet, asook By Jou Voete Lê wat dansvloere laat gons het oor die afgelope paar maande.

Die musiekvideo is deur Kreativ Productions verfilm by Urban Brew Studios en die eindresultaat laat Ray soos die rockster lyk wat hy is. Alhoewel dit ’n gewone “optrede video”-konsep is, is beligting en ander elemente slim aangewend om ’n asemrowende effek te skep.

Kyk die video hier:

Ray is ’n huishoudelike naam in die Afrikaanse musiekbedryf en is veral bekend vir treffers soos Hokaai Stoppie Lorrie, Dis Verby, Jessica, Hier binne klop ’n Boerehart, Angel-face, You’re My Everything, Vir Ewig Jonk, Uitbasuin, Hier Teen Jou Lyf en meer.

Sedert hy op die ouderdom van twaalf saam met Bles Bridges begin optree het, het hy die kuns vervolmaak om met Afrikaners se harte te praat en verskeie goue- en dubbelplatinumstatus-albums en -liedjies uitgereik.

Tans is hy baie besig om saam met ander kunstenaars, soos Juan Boucher, te werk aan opwindende projekte in sy eie ateljee, RDM Studio.

Die sanger wil ook graag voor die einde van die jaar Country Vibes 2 uitbring, waarmee hy en liedjieskrywer en musiekvervaardiger – Piet Farrell – tans doenig is.

Ek Wens is een van daardie liedjies wat dadelik in jou kop vassteek. Dit nooi jou uit om saam te neurie en aan te hou glo in ware liefde

Ek Wens is beskikbaar op alle digitale platforms.

Leave a Reply

error: Content is protected !!