Onvoorwaardelik Ek - Talana Vuren-Kuhn

Nadat Talana Vuren-Kuhn tien jaar terug in die media was as gevolg van die verkeerde besluite van haar jonger self, het dié sangeres, besigheidsvrou en nou-huisvrou op “The Real Housewives of Pretoria” besluit om haar lewe heeltemal om te draai en rig haar  oë nou na bo. Sy het besluit dat die tyd nou uiteindelik reg is om als te vertel van haar pad wat sy deur vure moes loop, en sy doen dié met die hulp van haar nuwe enkelsnit, getitel Onvoorwaardelik Ek.

Onvoorwaardelik Ek vertel ‘n storie van ongeduld en onsekerheid wat eindelik kan lei na ‘n lewe vol vreugde, waar mens behoorlik kan blom waar jy geplant is – waar mens onvoorwaardelik jouself kan wees.

Dié lied staan dus as getuienis van die nuwe lewensreis wat Talana vir haarself geteer het na ‘n lang stryd teen haar verlede en die keuses wat sy in daardie tyd gemaak het.

“Wanneer jy onvoorwaardelik jouself is en jou waarde ken, sal jy onmeetbare vreugde ervaar”.

Dié snit is ook die temalied van haar self-help journaal, 28 Dae Tot Self-Liefde, wat Talana uitgereik het as deel van haar motiveringspraatjies. met dié praatjies mik en beoog sy om ander vrouens ook te leer oor self-liefde, aanvaarding, waarde en hoe om hul stemme as vrouens te vind. Dié is ‘n reis wat sy self al die afgelope tien jaar met haarself, asook met die Here, moes stap en dus voel sy gereed om nou deur haar eie lewenslesse aan ander se harte ook te raak.

Onvoorwaardelik Ek is deur Emil Paul geskryf en is daarna ook deur hom en met die hulp van ADAM se Hugo Ludik vervaardig en tot die lewe gebring. Omdat Emil en Talana al ‘n lang pad saam stap en hy haar storie en hart reeds goed ken, was die proses om dié snit oor Talana se verhaal te skryf ‘n maklike een en kon hy dus die boodskap wat sy graag wil vertel maklik in liriese en musikale vorm uitbeeld.

Talana het bekendheid verwerf toe sy hoofsanger van die groep mWAH was, wat bekend was vir snitte soos Gee Gee Gee en die treffer Sandra Prinsloo met Elvis Se Seun.

Daarna het sy ‘n solo-loopbaan as sangeres aangepak, en het groot sukses behaal met haar Ghoema-genomineerde debuutalbum, “Hart Se Kunswerk”, asook met bekende treffers soos “Oorlog” en haar mees onlangste enkelsnit, “Deur Die Vure”.

Hierdie jaar het Talana ‘n groot, nuwe mylpaal in haar loopbaan bereik, en dít deur haar deelname aan die nuwe KykNet-reeks, The Real Housewives of Pretoria waaroor daar behoorlik gegons word. Dié reeks word tans elke Donderdag 20h00 op KykNet uitgesaai. Op dié program kon Talana ook onlangs die geslag van haar baba uiteindelik bekendstel – haar tweede dogtertjie wat sy met haar duitse man, Walter, verwag.

Nie net verskyn die talentvolle sangeres nou ook op die kassie, maar is sy ook ‘n bedrywige besigheidsvrou agter die skerms. Sy besit ‘n bemarkings maatskappy, millenial marketing, ‘n fotografie besigheid, en voer ook klere in vir haar kliënte met haar derde besigheid, Earth d K. Sy het ook onlangs haar akkreditasie as lewensdoel afrigter ontvang. Sy beplan dus om in die toekoms die kwalifikase te gebruik om ander mense se lewens te raak met motiveringspraatjies en seminare wat sy wil aanbied. Wees op die uitkyk daarvoor, sy sal die land nog plat toer hiermee!

Alhoewel Talana vandag ‘n selfversekerde, sterk vrou is, het haar lewe wel nie altyd so glad verloop nie. ‘n Paar jaar terug – presies ‘n dekade – het sy ‘n donker pad as jong, onervare tiener geloop.

“Ongelukkig het ek as meisie nooit geleer van self-liefde en waarde nie en dus het ek dit op die verkeerde plekke gaan soek.”

As gevolg van hierdie onsekerheid in haar lewe, waar sy net graag wou inpas, het sy in ‘n dwelm strik getrap.

“Ek moes baie hard werk om myself te vind en uit te vind wie ek as mens is weg van die dwelms en verkeerde invloede. Ek het self my musiek vir ‘n geruime tyd opgegee Om uit te vind of ek self daarvan gehou het of nie. Daar was baie deurmekaar seisoene in my lewe en ek moes uitvind waar ek hoort en pas.”

Ongelukkig is hierdie verkeerde besluite ook in die media dokumenteer en gepubliseer in die land se grootste skandaal-tydskrifte. Talana onthou opskrifte soos “Afrikaanse sangeres in dwelmskandaal”, “meisie verloor amper haar lewe” en nog vele ander artikels – meeste wat ook fopnuus was, waar tydskrifte nie eers die moeite gedoen het om háár kant van die storie te hoor nie. Dus moes sy ook talle kere stories oor haarself vir die eerste keer in berigte hoor.

“Dit was aaklig om hierdie goed te lees en te weet dat almal nou weet wat ek verkeerd gedoen het, maar ek het besluit om my kruis te dra en het niks ontken nie.

Ek het foute soos enige ander mens gemaak, ongelukkig was ek in die kollig en het my foute soos ‘n seer puisie uitgestaan.”

Alhoewel hierdie tyd van haar lewe baie pyn en hartseer behels het, bly Talana glo dat sy dit alles selfs weer sou doen omdat dit als gelei het na die persoon wie sy vandag is. Sy volg ‘n belangrike reël wat sy vir haarself gestel het – sy weier dat die verlede se kettings om haar nek met slotte gebind word.

Ons almal is net mense, en ons almal maak foute.

Wanneer sy gevra word hoe sy deur hierdie hindernisse kon veg, is haar antwoord vinnig en selfversekerd – net met die hulp van God.

“Hy het basies op my gegil en my letterlik reg geruk toe ek dit die minste verwag het, maar die nodigste gehad het. God het my beste maatjie geword, want net Hy het my nie ge-oordeel of laat voel eks ‘n mislukking nie, maar het my met liefde terug gelei na die pad wat vir my uitgelê was. mens moet bereid wees om te verander en om gesond te word, niemand kan jou dwing of dit namens jou doen nie, dit moet by jouself begin.”

In die koor van Onvoorwaardelik Ek sing Talana die woorde “Ek sien die son weer deur die wolke skyn, sien myself weer deur my oë. Ek kies die liefde wat van bo af kom, kies om in myself te glo”. Dié woorde beskryf hoe sy haar lewe vandag leef, en hoop sy dus om dieselfde boodskap ook aan haar luisteraars oor te dra. Natuurlik sal die snit nie net kan waardeer word deur luisteraars wat die dieper woorde sal wil indrink nie, maar sal mens ook behoorlik op die lied kan sokkie en geniet by enige kuier.

Onvoorwaardelik Ek is nou beskikbaar op alle digitale stroomplatforms, en kan ook begelei word deur Talana se self-help boek wat vandag te koop is.

One thought on “Talana Vuren-Kuhn vier onvoorwaardelik haarself in nuwe enkelsnit”

Leave a Reply

error: Content is protected !!