Verbeel jouself jy sit in ‘n klein kroegie waar skadu’s van die verlede teen die mure blerts. ‘n Donkerkop sangeres, smeulend, staan op die verhoog.  Haar mond gaan oop en die klanke wat daaruit stroom herinner aan ‘n jonger Norah Jones.  Haar stem is warm; ‘n blokkie egte Switserse sjokolade wat op jou tong smelt.

Sy het ‘n stem waarvoor jy nooit moeg gaan raak nie….

Pastel Pauw, ‘n natuurwetenskaplike en sangeres-liedjieskrywer, is die heel nuutste toevoeging tot die Suid-Afrikaanse musiekbedryf en met haar Engelse debuutenkelsnit Guilty bewys sy dat sy met die beste van die beste kan meeding.

Met dié liedjie, wat een van haar eie pennevruggies is, is sy ook benoem vir ‘n Afrikaanse Indie-toekenning as beste liedjieskrywer.

Guilty kan as ‘n aweregse liefdesballade. Die liedjie het geen borrelgom woorde of wysie wat die liefde soms soos ‘n cliché kan laat klink nie. Die diepte van haar lirieke word baie goed verwoord in die volgende gedeelte: … I tried to hide it all those years… do you hear the whispering? It’s the ghosts you left behind…”

Oor dié liedjie sê sy: “Ek dink dat ons almal eens op ‘n tyd in ‘n verhouding was waar een persoon meer omgegee het as die ander persoon. Ons breek of bou die mense met wie ons in verhoudings is.

“As gevolg van dit, is dit ons skuld as iemand iets geword het, wat hulle nooit sou wees as dit nie vir ons invloed was nie. Ons is geneig om na ‘n mislukte verhouding weg te stap en te probeer vergeet, maar ons sal altyd onthou wat ons aan daardie persoon gedoen het.”

Pastel is self deur die tipe verhoudings, maar op die ouderdom van amper 39 het sy nou ‘n nessie vir haar hart gevind en is baie gelukkig getroud.

Pastel, wat Wonderboom-Suid in Pretoria woon, beskou haarself as die ma van “twee rowwe dogtertjies.” Maar die etiket van ma-wees is nie die enigste wat sy om haar nek kan hang nie; sy is ‘n natuurwetenskaplike, ‘n diereregteaktivis, skilder en ‘n avonturier. “Ek het vir ‘n paar maande onder bome gebly; op soek na werk en avontuur,” vertel sy laggend. “Op die manier het ek ook ons pragtige land gesien.”

Pastel is nie net ‘n fyngevoelige kunstenaar nie, maar ook ‘n “karakter” wat maklik deel van Rian van Heerden se nuwe KykNET-reeks Karakter kan word.  “Ek dra al vir langer as ‘n dekade nie skoene nie,” vertel sy.  En sy sal ook kaalvoet op die verhoog staan….  “maar ek dra maar hakkies na ‘n werksfunksie toe, want ander mense vind my kaalvoete soms vreemd,” lag sy.

Sy is ook nou besig met haar meestersgraad in natuurwetenskappe en haar spesialisgebied is die habitat en gewoontes van die grasuil.

Pastel is wel ‘n nuweling in die musiekbedryf, maar sy het met musiek grootgeword.

“My pa het ‘n liefde vir musiek by my gekweek. Hy het altyd seker gemaak ek luister nie net na die lirieke nie, maar ook na die klanke; na die instrumente.  Elke instrument moes ondersoek word, die akkoorde, die ritme, die vinnige vingers oor kitaarsnare of die dowwe geluid van die tromme se gedoef-doef in die agtergrond.”

Sy is ook ‘n selferkende musiekinstrumentopgaarder en kan ook elke instrument – van die pennieflutjie tot by die panfluit bespeel. “Ek het nog nie die saksofoon of die viool bemeester nie, maar ek is in die proses om ook die instrumente te leer ken en te bespeel. Ek is ook van plan om vir my ‘n banjo te koop – en een van die dae sal ek daardie instrument ook onder die knie kry.”

Pastel is ‘n onontdekte reeds geslypte diamant wat nog diep spore in die musiekbedryf gaan trap en hopelik verras sy ons binnekort met nog ‘n enkelsnit. Sy is wie sy is: uitgesproke, talentvol, passivol en onbeskaamd.

Guilty is beskikbaar op alle digitale platforms.

Sosiale Media: Instagram

Leave a Reply

error: Content is protected !!