Matthew John Duncan is ‘n naam om te onthou en met sy enkelsnit Roep sal jy dit wil onthou. Roep is Matthew se debuut Afrikaanse enkelsnit, en vertel die verhaal van om aan jouself te werk om ‘n beter mens te wees vir jou naaste.
Matthew is eintlik Afrikaans al klink sy naam soos ‘n regte Engelsman. Hy het in Durbanville grootgeword en het ‘n Diploma in siviele ingenieurswese verwerf aan die Kaapse Skiereiland-Universiteit vir Tegnologie en is tans besig met sy BTech-graad. Hy is die afgelope sewe jaar aktief as musikant en het in November 2018 sy eerste EP, Coming Home uitgereik. Matthew het onlangs die nuus gehaal toe hy as die wenner van David Gresham Records se Sing for Us kompetisie aangewys is.
Die lied is geskryf deur Matthew, in samewerking met Simon en James Kotzé, en is vervaardig deur Jandré Spangenberg by Totius Hill Studios.
Roep bespreek die komplekse liefdesverhoudings, soos Matthew dit beskryf: “in ’n liefdesverhouding die regte persoon verkeerd hanteer en sodoende raak hulle die verkeerde persoon. Net so kan jy die verkeerde persoon reg hanteer, sodoende raak hulle die regte persoon” Klank gewys is Roep ‘n fantastiese melodieuse snit, dit is verseker die tipe musiek wat kort op die radio en op jou speellys.
As Matthew nie besig is om musiek te maak nie, vul hy sy tyd met boeklees, liggaamsoefeninge en die voltooiing van sy BTech graad. En soos hy sê “Ek sien sukses as om ’n lewe daarvan te maak deur my passie uit te leef. Ek hoef nie die ‘grootste’ kunstenaar in SA te wees om gelukkig te wees nie.” Wel daar is nuus vir hom, ons sien talent hier wat beskore is groot dinge in Suid-Afrika en die wêreld.
Om af te sluit: Roep is definitief die tipe snit waar jy met ‘n volle bors sal saamsing en die kwaliteit, woorde en betekenis sal waardeer elke keer as jy dit luister.