SOS is ʼn splinternuwe liefdeslied deur die jong kunstenaars Jemma Catherine en Georic Lomas en handel oor die miskommunikasie in ʼn verhouding en hoe twee mense weer bymekaar kan uitkom. 

SOS is ʼn Afrikaanse popliedjie en is geskryf deur Jemma Pheiffer en Georic Lomas.  SOS het ʼn alternatiewe pop-klank met ʼn melodie wat beslis ʼn oorwurm gaan word op al wat ʼn Afrikaanse speellys is. 

Die liedjie kan geïnterpreteer word as ʼn simbool vir hoop in enige verhouding of vriendskap waar jy hoop die ander persoon sal jou denke hoor en verstaan. 

“Ek het SOS en SMS as ʼn liriek gekies omdat dit juis hierdie hoop vir ʼn uitweg vasvang en die nood daarvan kan uitbeeld, maar dit dan steeds probeer afspeel in die eenvoud van ʼn SMS,” verduidelik Jemma. 

Die twee kunstenaars sê hulle is trots op die eindproduk en glo die liedjie het die potensiaal om ʼn groot liefdeslied te wees wat in baie mense se liefdesverhale sal pas. 

“Dit is belangrik dat mense moet aanklank vind by die musiek en dat al die liedjies gebaseer is op alledaagse dinge wat partykeer moeilik is om in woorde om te sit,” het Jemma bygevoeg. 

Sy beplan om binnekort nog ʼn hele rits liedjies uit te reis en is baie opgewonde oor die Afrikaanse musiekbedryf.  

Deon Dee  het die vervaardiging en regie van die musiekvideo vir SOS hanteer. 

Die video is op twee verskillende plekke geskiet en beeld twee mense wat na mekaar roep uit. Dit wys hoe hulle weg is van mekaar, maar steeds na mekaar op soek is.  

Later word daar in swart en wit dele van die verhouding gewys en hoe dit voorheen was. Aan die einde van die video is hulle op dieselfde plek maar nie saam nie. Dit simboliseer dat hulle dieselfde voel ten opsigte van die verhouding en dat daar na mekaar ʼn SOS uitgestuur is.   

Kyk die musiekvideo hier:

Jemma Catherine is al vir twee jaar doenig in die musiekbedryf, maar sing al sedert sy ses jaar oud was. Haar debuutsnit is in Maart 2022 vrygestel en sy het reeds die kroon gespan oor nuwlinge in dié kompeterende musieklandskap.  

 Georic Lomas het veral bekendheid verwerf vir sy treffer Bazaruto wat deur liedjieskrykoning Johan Vorster geskryf is. Hy het ook in 2013 die toneel betree as Morné in die gewilde musiekblyspel, As Jy Sing. 

SOS is beskikbaar op alle digitale platforms.

 

Leave a Reply

error: Content is protected !!