Lezahn

Lezahn is terug met ‘n nuwe enkelsnit Dis Hoe Jy Die Wêreld Verander na ‘n musiek droogte van bykans twee jaar. Lezahn beskryf haar afwesigheid van die musiek so “Ek is ‘n onafhanklike sanger – dus sal ek dit eerder ‘n finansiële droogte noem en nie ‘n musiek droogte nie”.

Dis Hoe Jy Die Wêreld Verander gaan oor die strewe na individualiteit, om ‘n lig te wees en om moeilike tye te weet dat daar mense is wat omgee. Dis Hoe Jy Die Wêreld Verander is definitief radio vriendelik snit en val goed op die ore. Na die eerste keer se luister sal jy definitief begin saam sing.

Lezahn - Dis Hoe Jy Die Wereld Verander
Lezahn. Foto: Verskaf

“Ek was soos ‘n papie wat geestelik en emosioneel moes groei om uiteindelik ‘n skoenlapper te word,” sê Lezahn. “Ek het my baie deur mense laat voorskryf. Ek het gesukkel om my eie unieke styl en individualiteit te vind,” verklap sy. Lezahn glo dat sy met dié enkelsnit nuwe hoogtes in haar loopbaan gaan bereik. “Ek is baie opgewonde oor die liedjie en ek glo dat ek hiermee nuwe musikale hoogtes gaan bereik.” Dit is waarom sy die lirieke “…probeer jy ook inpas, om soos almal te lyk, koop jy dieselfde klere, al hou jy nie daarvan?” ook met soveel oorgawe kon vertolk.

Met Dis Hoe Jy Die Wêreld Verander, wat deur die bekroonde liedjieskrywer Joshua Oosthuizen van Oriison Productions geskryf is, het Lezahn bewys dat haar stem die afgelope paar jaar net dieper en ryker geword het.

Lezahn het eers in 2018 haar debuut album Masker uitgebring, maar sy is nie ‘n onbekende stem in die musiekbedryf nie. Sy het reeds in 2013 ‘n paar enkelsnitte vrygestel wat goed deur plaaslike radiostasies ontvang is en het ook voorvertonings vir groot name soos Jakkie Louw gedoen.

Lezahn is haar eie mens, doen wat vir haar goed voel en nederig soos wat net die bestes kan wees. Haar nuwe enkelsnit laat haar in ‘n nuwe rigting slaan wat haar op die pad sit vir sukses. Haar stem is uniek en met haar nuwe klank is sy deel van die room van Afrikaanse musiek.

Leave a Reply

error: Content is protected !!