Die Afrikaanse alternatief punk band, Kontras, is terug met hul nuwe enkelsnit Die Ruimtevaarder wat vandag (21 Augustus) beskikbaar is op alles digitale platforms. Dit is die vierde vrystelling van hul debuut album, Vir Konteks wat die 11de September uitkom.

Die Ruimtevaarder wys duidelik dat Kontras ‘n diverse klank het wat verskil van vorige enkelsnitte wat die band uitgebring het. Dié enkelsnit handel oor swaarkry en hoe om jouself weer op te tel, iets wat almal hulself meer kan vereenselwig. Kontras nooi jou, om saam met hulle op ‘n reis te gaan deur die heelal en jou plek in dit te herbevestig.

Jacques Groenewald, die hoofsanger en skrywer van Kontras beskryf Die Ruimtevaarder so:

“In die uiteensetting van die heelal was daar plek geskep vir die mens en ons het iewers langs die pad ons plek verloor. ‘Die Ruimtevaarder’ herinner jou jy is ‘n kind van die sterre, gebore uit iets magies en bedoel vir soveel meer.”

Kontras. Van links; Louwrens Labuschagne, Andrew Veldman, Daniël Botha, & Jacques Groenewald. Foto: Verskaf

Die Ruimtevaarder gee die gevoel van waar jy en jou vriende saam sing terwyl almal van hul sorge vergeet en aan die einde weet almal dit gaan beter wees. Die snit praat ook met jou hart en soos Jacques sing in die opening lirieke “Ek’s nietig en klein en wens ek kon meer wees” almal het al so gevoel. Kontras se lirieke is diep en betekenisvol.

Die Ruimtevaarder maak gebruik van kitare en drywende dromme begelei deur viole, cellos, trompette en trombone wat hierdie lied tot hemelse vlakke laat styg. Wat begin as ‘n kalmerende ‘lullabye’ en sagte stemwerk, eindig met ‘n dramatiese katarsis in ‘n oerknal van simbale en kitare.

Die band, wat bestaan uit Jacques Groenewald (Hoofsanger) , Andrew Veldman (Hoofkitaar) , Louwrens Labuschagne (Baskitaar) en Daniël Botha (Dromme & Agtergrond stem) het al verskeie suksesse en mylpale bereik. Vanaf hul uitverkoopte debuut in Februarie 2019, Middelklas Middelman se musiekvideo op KykNet, tot waar die snit gevoeg is tot verskeie Alternatiewe speellysteop Spotify, Apple Music en JOOX. Die band is besig met groot spronge na sukses.

Kontras het al verskeie feeste gespeel soos Rocking Stellies, The International Tequila Festival, en I Love Stellies waar hulle al verhoë gedeel het met kunstenaars soos Fokofpolisiekar, Jack Parow, The Plastics, Willim Welsyn, The Kiffness, Straatligkinders, Early B, Van Pletzen, YoungstaCPT, Tasché, en Die Heuwels Fantasties.

Om terug te kom na Die Ruimtevaarder, hierdie is ‘n goeie snit in die oploop na die debuut album van Kontras na die “feel-good” Velde, die hartroerende Die Happy Song en die wilde Mors Jou Drank.

Ons sien uit na die toekoms van alternatief Afrikaans musiek saam met Kontras.

Leave a Reply

error: Content is protected !!