Julanie J se eerste Afrikaanse album Mooi het in 2020 vele aanhangers gewerf vir hierdie inspirerende jong kunstenaar met die besonderse stem. Haar mees onlangse enkelsnit Arm het groot sukses op radio behaal en speel na maande steeds op verskeie prominente stasies landwyd.

Kort op die hakke van Arm se sukses volg `n splinternuwe enkelsnit Bitter.

Julanie vertel: “Ek skryf ook liedjies vir ander kunstenaars en TV Programme en ek het Bitter oorspronklik vir `n ander kunstenaar geskryf. Die liedjie het baie “country” elemente gehad, `n genre wat ek nie dink ekself sou wou doen nie. Maar toe die kunstenaar besluit om nie meer `n album te maak en hierdie liedjie uit te reik nie, het ek besluit om dit self op te neem. Om meer by my klank te pas, het ek verskeie POP elemente tydens die opname ingebring. Die liedjie is geskryf na `n spesifieke ervaring: “Toe ek en my vriendinne een aand `n baie duur bottel sjampanje drink, was ons verbaas dat dit glad nie baie lekker was nie. Ons het almal gespot en gesê dat ons eerder die goedkoper opsie moes kies, vandaar die lirieke: “Die duur bottels proe bitter vir my.”

Bitter praat natuurlik van die sjampanje maar ook hoe ons as jong vroue nog uitvind wie ons is en wat ons wil hê. Dit kan soms moeilik wees in vandag se tyd met sosiale media en die wan- persepsie van hoe ons moet lyk en onsself gedra. Aan die einde van die dag dink ek ons soek almal meer selfvertroue – en die lewe is beslis te kort vir slegte sjampanje!”

Stroom die liedjie hier: https://WarnerMusicSA.lnk.to/Bitter

Julanie J is ‘n jong, talentvolle Suid-Afrikaanse sanger en liedjieskrywer wat aanvanklik bekendheid verwerf het vir haar Christelike musiek, maar nou ook uitblink in die Afrikaans/ Pop en kontemporêre genres met splinternuwe materiaal wat sy spesiaal vir hierdie gehore ontwikkel het.

Die passievolle sangeres se aanloop tot sukses het in alle erns afgeskop in 2016, toe haar debuut- album Spirit Breakout binne minder as 24 uur van vrystelling Top 20 erkenning behaal het op die internasionale iTunes-ranglys, en terselfde tyd aangedui is as nommer 3 op ons plaaslike ranglys. Sy is ook in dieselfde jaar op die ouderdom van 19 genomineer vir ‘n Mzansi-toekenning.

Warner Music South Africa het vanaf 2019, 5 Afrikaans enkelsnitte en die album Mooi namens Julanie uitgereik. People magazine het haar in 2019 “South Africa`s new pop princess” genoem en `n Huisgenoot resensie sê dat Julanie “beslis `n kunstenaar is om dop te hou.”

 Ten spyte van haar snelle sukses en blink toekoms, bly Julanie J steeds ‘n nederige Afrikaanse meisie met haar wortels diep gedelf in haar geloof, gemeenskap en familie. “Ek is ‘n gewone meisie met ‘n groot liefde vir die lewe, my familie en ‘n lekker groovy bassline. Ek is die jongste van ses kinders en reeds die trotse tannie van ‘n hele paar rakkers.”

Bitter is beskikbaar op alle digitale platforms.

 

Leave a Reply

error: Content is protected !!