Die oomblik waarna bewonderaars nou al so lank uitsien, het uiteindelik aangebreek. Gerduan Kemp se debuut album, Sesde Sintuig, is uiteindelik beskikbaar en beloof om selfs die mees kritiese oor tevrede te stel.

Volgens dié Pretoriaanse sanger en liedjieskrywer werk hy al sedert 2019 aan hierdie pop-rock album en is dit vir hom ’n groot droom wat waar word. Al die liedjies is geïnspireer deur gebeure uit sy lewe en vertel sy storie sover.

“Die titel van die album is ’n goeie beskrywing van hoe ek oor musiek voel en dis hoekom ek daarop besluit het,” verduidelik hy. “Ek wil hê luisteraars moet met my liedjies kan vereenselwig en hulle eie storie en emosie daarin vind. Die belangrikste van alles, is dat hulle dit moet geniet!”   

Hierdie tien-snit-vrystelling bevat die perfekte kombinasie emosiebelaaide én lekkerluister liedjies om jou te motiveer om dit van begin tot einde deur te luister. Gerduan het die grootste gedeelte van die album saam met Hugo Ludik en Nick Jordaan geskryf, maar hy het ook saam met Riaan Benadé en Petrus van Wyk gewerk. Johan Oberholzer en Emil Robert het ook ’n waardevolle bydrae gemaak.

“Ek het eers onlangs na Gauteng verhuis en dit was nogal ’n uitdaging aan die begin om tussen Bloemfontein en Pretoria te reis om opnames te doen,” vertel hy. “Ons het probeer om elke liedjie uniek te maak en die styl verskil van snit-tot-snit. Luisteraars kan uitsien na alles, van akoesties tot pop-rock en dansmusiek.”

Omdat hy nog altyd geglo het dat Jou Tipe Jaloers, wat hy saam met Riaan Benadé geskryf het, die potensiaal het om ’n radiotreffer te wees, het hy besluit om dit saam met sy album vry te stel. Dit is ’n opgewekte liedjie, wat jou uitnooi om saam te sing en dans, en gaan oor die positiewe impak wat party probleme in ’n verhouding op ’n paartjie kan hê.

“Dit is geïnspireer deur ’n musikant se lewe en beskryf die jaloesie wat soms gepaard gaan met ’n verhouding waarin werk verhoed dat ’n paartjie mekaar baie sien. Dit beskryf ook hoe die verlange na iemand, wat nie by jou is nie, soms jou gedagtes kan oorneem en jou nog meer lief kan maak vir daardie persoon.”

Die musikant, wat byna sy hele lewe lank in die Vrystaat gewoon het, meen dat oud en jonk by hierdie snit sal aanklank vind en dat dit hulle sommer dadelik in ’n goeie bui sal sit. Daarom het hy besluit om ook ’n musiekvideo daarvan te maak.

Eric Graham het die video vervaardig en dit is in ’n ruim, oopplanhuis in Pretoria verfilm. Die video wys die verloop van ’n verhouding deur die verskillende tye van die jaar en beeld ook die lewe van ’n musikant, wat min by die huis is, direk uit.

“Ek het elke oomblik daarvan geniet om die musiekvideo te skiet en het die voorreg gehad om saam met die bekende aktrise, Kristen Raath (7de Laan), en die dromspeler, Pierre de la Porté, te werk. Die idee van die video is direk uit die liedjie gevat en beklemtoon die boodskap dat ware liefde altyd sal seëvier,” deel hy.

Jou Tipe Jaloers is die derde enkelsnit vanaf sy nuwe album en volg in die voetspore van Langpad Na Môre en Sesde Sintuig wat beide uitstekend ontvang is en steeds op radiostasies regoor die land gehoor kan word. Die hoendervleis mooi musiekvideo van die titelsnit is ook reeds deur meer as 26 000 mense op YouTube gekyk.

Omdat hy so baie daarvan hou om stories vertel deur sy kuns, hetsy musiek of fotografie, geniet Gerduan dit vreeslik om vir ander kunstenaars musiekvideo’s te vervaardig. Hy beplan ook om binnekort sy optredes te hervat sodra inperking dit toelaat.

LYS VAN SNITTE

  1. Langpad Na Môre
  2. Tydelik
  3. Sesde Sintuig
  4. Ek Ken ’n Vreemdeling
  5. Jou Tipe Jaloers
  6. Al Die Woorde (saam met Tasha)
  7. Vergewe My As Ek
  8. Dagbreekdrome
  9. Ek Ken ’n Vreemdeling (Simfonie-weergawe)
  10. Dagbreekdrome (Akoestiese weergawe)

Sesde Sintuig is beskikbaar op alle digitale platforms. Laai dit hier af: https://GerduanKemp.lnk.to/SesdeSintuigMB

Leave a Reply

error: Content is protected !!