Twee meesterlike musikante, Leon Shaw en Vinnie Henrico, het pas hul eerste duet Desperado uitgereik en dié samewerking gaan nog in die geskiedenis van Suid-Afrika se musiek-anale verewig word.

Leon, wat gedebuteer het in die groep Mean Mr Mustard en die drommer Vinnie Henrico, wat beter bekend is as The Pocket Rocket, se nuutverpakte verwerking van Eagles se bekendste treffer het reeds musiekresensente gaande en dít beloof om die duet van die jaar te wees.
Vinnie, wat as een die beste drommers in Suid-Afrika beskou word, het ook in die ateljee bewys dat hy nie net ’n towenaar met die dromstokkies is nie, maar ’n uitstekende tenoorstem het wat uitstekend by dié van Leon (wat ook ’n tenoor is) pas.

Leon is self ook ’n bekende sanger en dromslaner, wat die afgelope paar jaar met sy Leon Shaw Syndicate die een radiotreffer na die ander teen ’n verstommende spoed uitgeryg het.

Gooi dié twee se name in ‘n pot, meng dit met hulle amper bo-natuurlike musikale vermoëns en die hoofgereg is ’n proe-luister wenner waarop Don Henley en Glenn Frey baie trots sou wees.

Oor dié samewerking sê Leon: “Ons is beide mal oor Eagles en het tydens die die inperking besluit om dié liedjie saam op te neem.”

Desperado, wat in 1973 op Eagles se gelyknamige album verskyn het, is ’n folk-rock liedjie wat deur musiekresensente geloof word as een van die belangrikste liedjies wat, oor die afgelope paar dekades, in die genre verskyn het.

Dit is altyd ’n waagstuk om ’n bestaande treffer op te neem en uit te reik, maar in die opsig slaag Vinnie en Leon nie net daarin om die liedjie hul eie te maak nie, maar ook om dit eg Suid-Afrikaans te laat klink sonder om die oorspronklike weergawe af te water.

Desperado is musikaal ook uitstekend versorg. Dit te danke aan die “vriende” wat Leon en Vinnie tydens die opname van die liedjie ingespan het. ’n Mens kan die uitstekende kitaarspel van onderskeidelik Denny Lalouette (baskitaar) en Arno West (akoesties en elektries) hoor. Marius Marais is op die klawerbord en op die pedaal is Sez Adamson.

Wat dié liedjie ook so besonders maak is die feit dat beide Leon en Vinnie (met die tegniese hulp van Sean Butler en Josh Oosthuizen) by die produksieproses betrokke.

Dit was die eerste keer dat Leon en Vinnie saamgewerk het en ons hoop dit was nie die laaste keer nie.

 

 

Leave a Reply

error: Content is protected !!