LAT Patrollie se petrolbom-punk in Afrikaans

Ek kan nie skaatsplank ry nie. Trouens, dalk is ek soos wat Francois van Coke sing in LAT Patrollie se blitsvinnige skater-punk song “Skate”, te oud vir skaatsplank. Maar as jy die klemvuis-punkrockers uit die Noordelike voorstede van Kaapstad se masjiengeweer-kitaarwerk hoor, sal selfs die onhandiges en oues onder ons ʼn plat ding met wiele wil gryp!

Die manne van LAT Patrollie het so halfjaar gelede met glimmende kaal bolywe en skellende energie op my Facebook-feed opgeduik. Die grendelstaat was skaars ʼn maand of twee oud, en die land en wêreld se frustrasievlakke was reeds hemelhoog. Die latte van LAT het wel ʼn “vlieënde f*k gevoel” en ons toegegrendeldes met ʼn aanlyn-punkshow op ons lessenaars laat spring. Vandaar het ek hul twee albums dadelik afgelaai en my nek in ʼn spasma geskud op die maat van hul vurige ritmes en middelvinger vir die reëls.

Die debuutalbum LAT Patrollie (2018) het 7 nommertjies wat die band heftig in die plaaslike punk-arena vestig. “Moenie hierna luister nie” begin met ʼn deeglike, Nataniël-agtige waarskuwing dat hierdie latte se punk jou ouers gaan ontstel, maar jou wel op die regte pad gaan sit. Gepraat van die regte pad, liedjie nommer 7 naamlik “Filippense 5:6” kom as ʼn vrome vreemdeling op ʼn punk-album voor, maar rebelleer juis teen die gros voorskriftelikhede waarmee jou deursnee Afrikaner-laaitie in onder andere die voorstede sal grootword.

Die album het ʼn slice of life benadering, en jy hoor gereeld hoe songs oorskakel na dialoog tussen die band-lede en andersom. Baie van die songs is punknommertjies oor punk self, maar dit is sekerlik verstaanbaar op ʼn debuutalbum as bekendstelling. Ek hoop wel verdere albums vermy die Nickelback-styl afwatering waar elke tweede nommertjie ʼn lied oor rockmusiek is. Dit is ʼn slaggat in die Afrikaanse kunste. Ook in die digkuns is daar ʼn neiging om heeltyd oor die digkuns self te dig.

LAT Patrollie v.l.n.r Mark van Zyl, Raymand Buitendag & Armand Buitendag. Foto Verskaf.

Die 2020-album Wat Kan Jy Doen open met ʼn nommer wat die band beskryf het as ʼn hoogtepunt tot op hede, naamlik die bogenoemde song saam met Francois van Coke, “Skate”. Die liriekwerk is eenvoudig, vinnig en wat my kennis betref ʼn eerste en uitstekende weergawe van skater-punk in Afrikaans. Boonop is die woordspeling met die Afrikaanse skelwoord “skyt” baie subtieler as jou tipiese Blink182-nommertjie.  Dié variasie van punk is beslis LAT Patrollie se kenmerk. Op “Geen Vyand” hoor jy weer die eg-Britse punk-klank, wat herinner aan The Clash, The Ramones en ander vestigers van die genre. Die ouens het beslis die genre onder die knie, en poog sommer hul eie benadering tot woede-gebaseerde Afrikaanse punk in “Kwaadcore”. ʼn Nommer met die eksperimentele titel “————————-“ betrek trompetklanke en herinner aan Britse Oi!-punk. Verder hoor hy die besliste invloed van die 2000’s se punk-herlewing, soos Green Day en Billy Talent

Is die manne ooroptimisties met hulle punk, of is dit dalk ʼn oorblyfsel van ʼn vergange tyd? Wat van die jonger generasie wat nie die 2000’s se punk ken nie? Het die jonges van toe aanbeweeg?  Daaraan steur hulle hul nie, kom die antwoord. Of dit nostalgie is wat mense se belangstelling dryf of nie, hulle wil die “great f*cken scene” wat punk is, aanhou bemark met hulle rock.

Sover doen hulle dit met onderskeiding. Ek het met hulle gesels:

FVD:    Wie is julle manne?

LP:  Armand Buitendag op Dromme:

Ek het so 4 jaar terug begin drum en van daar die passie vir drumming develop. Dit het gegaan van passie na obsession op die stadium!

Raymand Buitendag op Baskitaar:

Ek het nog altyd ʼn guitar in my hande gehad en ook 4 jaar terug die bass vir die eerste keer opgetel en nog nie weer neer gesit nie. Ek cuddle probably met damn ding in die aande!

Mark Van Zyl op Kitaar:  

Mark het actually sy music journey begin agter die drum en die move na kitaar toe 4 jaar gelede gemaak. Maar Mark is ʼn wiz met omtrent elke instrument!

FVD:    Hoe het julle ouens ontmoet? Wat was die spark?

LP:       Mark en Raymand het op hoërskool ontmoet, waar hulle ‘n band gevorm het. Long story short, sowat 4 jaar gelede het Armand gejoin en begin ons toe die band Whiskey Sister, ʼn stoner rock band. Die band het gehou vir sowat ‘n jaar, toe besluit ons dat ons eerder Afrikaanse punkrock wil speel. Ons noem onsself toe LAT Patrollie.

FVD:    Punkrock het beslis ʼn moment gehad in die 2000’s; was julle deel van daardie beweging of het julle eers later die genre verken? Assosieer julle met daardie stadium?

LP:       Daar was ʼn tyd in die early 2000’s toe punk mainstream gegaan het, met bands soos Green Day en Blink182. Die moment het nog nooit dood gegaan nie. Solank daar ʼn klop kids is wat geraas maak in ʼn garage sal punk altyd daar wees. Ons almal was nog kids gewees daai tyd, so daar was ʼn tyd waar ons die genre weer moes verken. Maar ek dink daai initial feeling is nog steeds daar, veral toe ons almal Tony Hawks’ pro skater playlist gehoor het. So in a way associate ons met daardie stadium.

FVD:    Wat dink julle is die dryfkrag agter punk in die Kaapse suburbs? ʼn Mens sien dikwels die ouens in Gauteng en ander groter stede probeer die Kaap nadoen, maar eindig dikwels met ʼn indie klank op, of mik eerder vir funky electro-rock tipe klanke. Is die Kaap uniek?

LP:       Daai is ʼn good question. Dalk is daar iets in die water hier in die Kaap…! Dalk is dit dat mens meer willing is om alternative music te wil hoor of live te sien. Kaapstad is basically die Suidelike Kalifornië van Afrika. Waar daar surfing en skating is, is daar punkrock. Dit gesê,  daar in ʼn spul great punk bands in die res van Suid Afrika maar niks kom naby die scene wat ons hier in die Moederstad het nie.

FVD:    Hoe benader julle die skryf van musiek, is dit ʼn band-wye poging of wat is julle werkswyse? (Natuurlik hoef julle nie die magic resep weg te gee nie!)

LP: Meestal begin ons met die instrumentals en werk die song so uit. Dan sal ons werk aan die lyrics en backup vocals. Die band sal saam sit en dan sal ons begin skryf aan ʼn song so dit is beslis spanwerk wanneer dit kom by ons songs.

FVD:    Verlede jaar was daar ʼn Kaap-wye “bekendstelling”, kan mens seker reken, van die subgenre “ska-punk.” Fuzigish en daai ouens. Was julle betrokke, en dink julle die Afrika-wortels van ska het ʼn invloed op julle kreatiewe werkswyse?

LP: Daar was ʼn paar ska shows wat ons gespeel het laas jaar saam die ouens van Half Price en Crossfire Collision. Maar ons was altyd die mees non-ska band daar. Ons het nog nie dit reggekry om ska goed te laat klink in Afrikaans nie, maar ons gaan dit definitief nog eendag reg kry.

FVD: En dan, hoe was julle debuut show? Watter mal trivia kan julle vertel?

LP: Ons was net angstig en sleg! Daar was min mense en ons het gesien hoe iemand staan en sy kop skud. Maar die ding van ons artists is, jy moet net never fucking give up. Druk deur en jy sal daaruit leer. En punk is ons passie en ons lewe, so ons sal ons thing doen!

Lat Patrollie en Wat Kan Jy Doen is beskikbaar op alle digitale platforms.

Sosiale Media: Facebook | Instagram | Twitter

Frederik van Dyk is 'n regsgeleerde van Stellenbosch wat graag die kliniese beroepswêreld met musiek en skryfwerk afrond.

Leave a Reply

error: Content is protected !!