Chané wil mense se denke rondom Christelike sangers verander met die uitreiking van haar splinternuwe enkelsnit, Speak.

Elke nou en dan kom daar ‘n blink nuwe talent te vore wat jou laat regop sit, laat snak na jou asem en jou absoluut dwing om notisie te neem.  Die Weskaapse liedjieskrywer en sangeres, Chané se tyd het uiteindelik aangebreek om haar talent met Suid-Afrika te deel en kenners meen sy sal verseker binnekort een van Suid-Afrika se blink nuwe sterre word wat internasionaal sal deurbreek.

Sy skryf al liedjies vandat sy nege is en haar eerste radio-enkelsnit, Speak, is pas plaaslik uitgereik en dit word ook binnekort internasionaal uitgereik!  Hierdie aangrypende nuwe enkelsnit wat geskryf is na ‘n opwindende middag en pragtige sonsondergang saam met een van haar vriende gaan verseker aanklank vind by oud en jonk! Die snit is vervaardig deur die baie bekende produksiehuis, StoneBear & Mayor Records en in New York by een van die bekendste studios in die wêreld, Sterling Sound deur die uiters talentvolle Randi Merril gemeester.  Hy is ook verantwoordelik vir die meester van musiek vir bekende sterre soos Shawn Mendes, Ariana Grande, Taylor Swift, Harry Styles, Liam Gallagher, BTS, Imagine Dragons en talle ander beroemdes.

Alhoewel sy aanvanklik net drie-derdes van die liedjie klaar geskryf het voordat sy besluit het dat dit nie goed genoeg is nie, het dit ses maande later toevallig weer opgeduik. “Ek het die liedjie toe klaar geskryf, maar nie veel daarvan verwag nie. Dit was eers nadat my vervaardigers, Helmut en Lukas, daarna geluister het en beïndruk was met die lekkerluister-wysie wat ek begin opgewonde raak het,” verduidelik die sangeres.  

Volgens Chané is Speak ’n liedjie oor geloof en hoop. “Dit is ’n storie oor ’n hedendaagse Samuel en oor om God se stem te hoor. Dit is geïnspireer uit die begeerte om te hoor wat God sê en om Hom raak te sien in die alledaagse dinge rondom my,” deel sy. Speak is ’n getuienis van hoe God iets wat jy wil weggooi kan gebruik om jou lewe te verander.” 

Die enkelsnit, met sy moderne elektroniese popaanslag, is geskep met ’n groot gehoor in gedagte. “Ek glo dat luisteraars die styl, boodskap en wysie van die liedjie sal geniet. Ek wou nie net ’n tipiese aanbiddingslied vrystel nie. Die idee is dat mense geestelike musiek net soveel moet geniet as wat hulle ander soorte musiek geniet.”

Luister na Speak hier:

Chané wat in die Kaap gebore is en in Oos-Londen en Worcester grootgeword het, woon tans in die Wes-Kaap. Haar talent is reeds vanaf ’n jong ouderdom ontdek en ontwikkel en sy wou dit nog altyd met mense deel. Sy het gereeld in die kerk gesing toe sy jonger was en oor die jare verskeie musiekkwalifikasies behaal, waaronder ’n graadsewe-sertifikaat in Klassieke Kitaar van Trinity College en ’n graadvyf-kwalifikasie in Akoestiese Kitaar van Rock school.

Wanneer sy nie besig is om musiek te skryf en op te neem nie, werk sy as projekbestuurder by StoneBear and Mayor Records, geniet sy dit om te skilder en te teken as vryskut-kunstenaar, help sy kerke – plaaslik en oorsee – met hulle musiekbediening en is sy betrokke by ’n voedingsprojek in Avian Park in Worcester.

Chané put inspirasie vir haar eie werk uit emosies en stories en sê: “Ek is nog altyd geïnspireer deur die egheid van die mensdom wat langs my diep getroue en liefdevolle God staan.”

Sy geniet dit om na verskillende tipes musiek te luister en glo dat daar iets spesifiek is vir elke geleentheid. “Ek geniet dit om na jazz, goue oues en Latynse musiek te luister wanneer ek skilder en na Andrea Bocelli wanneer ek kook. Gospel, asook Brandon Lake, For King and Country en Taya Smith se musiek, is ook op my speellysie.”

Hierdie ongelooflike en inspirerende sangeres se doelwit is om soveel as moontlik mense met haar musiek te bereik.

“My plan is om ’n loopbaan te maak uit musiek, met Jesus as die middelpunt daarvan,” sê sy. “Dit sal vir my wonderlik wees om te sien watter impak my musiek op mense se lewens het en om hulle anders te laat dink oor Christelike sangers.”

Speak is nou beskikbaar op alle digitale platforms.

Sosiale Media: Facebook | Instagram | YouTube

Leave a Reply

error: Content is protected !!