Die verhoogproduksie Doep is Nie Dood Nie bevat ‘n formidabele versameling liedjies en tekste van wyle Koos du Plessis. Koos Doep, soos hy in die volksmond bekend geword het, word wyd beskou as die Bob Dylan of dalk die Leonard Cohen van Afrikaanse musiek. Koos is in 1984 tragies op ‘n relatief jong ouderdom oorlede, maar het ‘n rykdom van wysheid en skoonheid in sy oeuvre van liedere en geskrifte nagelaat.

Jannie du Toit se verhoogproduksie beklemtoon hoe lewendig en relevant Koos se kreatiewe nalatenskap vier dekades ná sy dood bly. Jannie gaan in “Doep is Nie Dood Nie” voort met sy selfopgelegde taak en passie om die kuns van sy oorlede vriend te verewig deur dit aan nuwe generasies bekend te stel. Die program is ook ‘n herwaardering van artistieke werk op die hoogste vlak in ligte Afrikaanse musiek.

Jannie het die program saamgestel met die hulp van Carl Theunissen, oudjoernalis, vriend en kollega van Koos du Plessis. Clinton Zerf het die meerderheid van die verwerkings gedoen – meesterlik uitgevoer deur Susan Mouton, hooftjellis van die Johannesburgse Filharmoniese Orkes en pianis Chanie Jonker. Jannie voltooi met sy kitaar die hoogs afgeronde instrumentale ensemble.

Jannie Du Toit | Foto: Verskaf

Na ‘n openingseisoen by die Oudtshoorn Kunstefees gedurende Maart 2014, gevolg deur ander kunstefeeste, het die produksie die Standard Bank Ovation-toekenning by die Grahamstad-fees in 2015 ontvang. Die verdere reise van Doep is Nie Dood Nie sluit optredes op landswye en internasionale toere in – onder andere ‘n besoek aan België en Nederland. Die algemene reaksie van die media en publiek bly dié van totale verwondering oor die omvang en gehalte van Koos du Plessis se kreatiewe werk wat ongeëwenaard is in Afrikaans.

Vir die veertigste herdenking van Koos Doep se sterfdag word Doep is Nie Dood Nie op die presiese datum, 15 Januarie 2024, by die Atterburyteater in Pretoria aangebied. Op dié aand word daar ‘n tweede gedeelte tot die program bygevoeg waarin Koos se dogter Karla en  ander kunstenaars oor Koos en sy werk gesels – dit ook voordra en sing. Dit is ‘n eenmalige aanbieding en Andries (Roof) Bezuidenhout sal die onderskeie kunstenaars voorstel en met hulle gesels. Andries, in sy eie reg ‘n gesoute verhoogkunstenaar en spreker, is getroud met Koos se oudste dogter, Irma. Verder is daar Mathys Roets, Wynand Strydom, Jacques Botes en die pa en seun-kombinasie van Andy en Murray Lubbe. Elkeen van dié kunstenaars het ‘n besondere pad met Koos en/of sy mense en musiek gestap.

ERFDEEL WEER IN DRUK BESKIKBAAR – Verdere luister word aan dié geleentheid verleen deurdat die herdruk van Erfdeel – die omvangryke biografie oor Koos Doep – op dié aand aan die publiek bekend gestel gaan word. Dit is in 2004 deur sy familie uitgegee en was vir jare lank uit druk.

 

Leave a Reply

error: Content is protected !!