Die jong Suid-Afrikaanse sangeres Alba Vorster is besig om internasionaal opslae  te maak met haar opgewekte Engelse popliedjies, maar nou ontplof sy weer op die Afrikaanse musiektoneel met ‘n popsnit getiteld Tydbom. 

Tydbom is ‘n popliedjie met ‘n voetstamp-ritme, maar die diep lirieke deel ‘n belangrike boodskap. Die liedjieskrywer Janie Bay het hoofsaaklik die liedjie geskryf, met behulp van Hunter Kennedy. 

Janie se stem is ook op dié popsnit te hoor. 

Die 15-jarige Alba beskryf Tydbom as ‘n oorwinningslied met ‘n sterk boodskap vir luisteraars wat met die lirieke kan vereenselwig. 

“Mense in my lewe is al deur hierdie seer situasie waar hulle vasgevang is in ‘n verhouding waar die ander persoon herhaaldelik ontrou is, en dan daar kon uitkom. Hopelik kan TYDBOM die luisteraars wat nog in daardie plek vas sit, die krag gee om daar uit te kom.” 

Alba sê sy het self aanklank gevind by die lekker-luister-liedjie en voeg by dat tiener-kunstenaars soos sy daarvan hou om “break-up-liedjies” te sing. Al het sy nie self deur ‘n diep liefdesteleurstelling gegaan nie, het van haar vriende dit al beleef. 

“Tieners se emosie rondom die onderwerp is dalk nie dieselfde as volwassenes s’n nie, maar dit beïnvloed ons hele bestaan wanneer ons daardeur gaan,” sê Alba. 

‘n Musiekvideo vir Tydbom word nog beplan. Die video sal deur Dee Graaff Productions geskiet en vervaardig word. 

Alba het vanjaar internasionaal getref met die liedjies “Gone 4 Good” en “For me that’s a no”, wat albei deur die Amerikaanse musiekvervaardiger Manny Mijares geskryf en vervaardig is. 

Sy het ‘n internasionale platekontrak losgeslaan by Upscale Records nadat Manny haar gesien optree het by die wêreldkampioenskappe vir die uitvoerende kunste in Los Angeles. 

Alba beplan om nog Afrikaanse musiek asook internasionale snitte uit te reik en wil in die nuwe jaar by soveel feeste en groot konserte optree as moontlik. 

Sy droom ook daarvan om haar eie musiek te skryf en op te neem. 

“Die res is in die Here se hande – Hy sal my lei waar ek moet wees.” 

Meer oor die kunstenaar: 

Alba Vorster is sowat drie jaar professioneel in die musiekbedryf doenig. Sy het haar liefde vir musiek as jong dogtertjie al begin ontwikkel en sê haar liefde vir musiek kom van haar musikale familie af. 

Alba Vorster is baie lief vir Riana Nel se musiek en droom daarvan om saam met haar te werk. Sy tel dié kunstenaar as een van haar grootste rolmodelle en sê sy kyk op na die manier hoe Riana haar liefde vir die Here wys deur haar musiek. Alba Vorster se musiek is geïnspireer deur persoonlike gebeurtenisse en selfs deur flieks of musiek. Sy is baie lief vir drama en die kunste en het ook ‘n belangstelling in die kosmetiese bedryf. 

Die Amerikaanse sangeres, danser en liedjieskrywer Tate McRae het ‘n groot invloed op Alba Vorster se musiek. Die musiekbedryf het haar geleer dat dit belangrik is dat sy eerstens in haarself moet glo en dat bestendigheid uiters belangrik is in die bedryf. 

Sy is hard aan die oefen om haar klavier- en kitaarspeelvaardighede op te skerp en is tans besig om nog liedjies te skryf. 

Tydbom is beskikbaar op alle digitale platforms.

Open in Spotify

Leave a Reply

error: Content is protected !!