Henck Conrey en André Lotter, wat saam bekendstaan as die indrukwekkende duo MAN, is na sewe jaar terug in die kollig met ’n langverwagte nuwe enkelsnit, wat reeds besig is om soos ’n veldbrand onder musiekliefhebbers te versprei. Vuur en Vlamme, uit die pen van Hugo Ludik en Nick Jordaan, spog met ’n internasionale klank en is soos ’n vars energieke briesie in die plaaslike popmark.

Reputasie het bietjie gesels met Henck oor die nuwe enkelsnit en deel ‘n bietjie meer oor sy loopbaan en inspirasie.

Inspirasie van die nuwe enkelsnit en wat beteken dit vir jou persoonlik beteken.

Ek en André was die afgelope ruk ongelooflik bedrywig in ons individuele loopbane so ons het nie regtig tyd gehad vir musiek maak nie, alhoewel ons konstant daaroor gepraat het. So toe 2023 begin het ons gevoel die is die jaar. Ons het toe vir Hugo Ludik en sy span gekontak en vir hulle verwysings liedjies en ons idees rakende die musikale rigting wat ons in gedagte gehad het gedeel. Hulle het aan ons Vuur en Vlamme voorgelê en ons was onmiddellik mal daaroor! Die snit gaan oor verbode liefde. Daai tipe liefde wat jy weet gaan jou skroei maar tog is dit so aanloklik. Die hele idee van die verbode vrug wat die soetste is wat ek dink die liedjie so maklik maak om aanklank by te vind.

Wat onderskei jou van ander kunstenaars in dieselfde genre?

Ek dink sosiale media maak dit so maklik vir enige individue moontlik om musiek vry te stel in ons hedendaagse milieu, want almal het nou ‘n platform om die wêreld bloot te stel aan hul musiek. So dit maak die industrie nog meer kompiteerend, maar dit is nodig vir mens as kunstenaar om jou op die punte van jou tone te hou. Maar ek glo die feit dat ek en André beide aparte gevestigde aanhangers basisse het wat uiters lojaal is en ons ondersteun met alles wat ons aanpak,‘n reuse verskil maak . Met die vrystelling van Plaasmeisie was ons verstom deur die ondersteuning wat ons ervaar het al is ons nie eksklusief musikante nie. So nou met Vuur en Vlamme is ons weereens bevoorreg om aanhangers te hê wie ons loopbane deur dik en dun bystaan.

Kan jy bietjie oor jou kreatiewe proses deel?

Vir my is die maak en opneem van enige kunsvorm ‘n ongelooflike persoonlike proses. Ek vind inspirasie in die kleinste oomblikke van stilte in my alledaagse lewe en hoop die gevoel wat ek ervaar deurgevoer word in ons musiek sodat die luisteraars aanklank daarby kan vind. Dieselfde geld vir die maak van my televisie programme. Inspirasie kan my tref van enige kant af en daar is vir my niks so lekker soos om ‘n idee te sien in iets tasbaar te verander nie. Ek is op my mees kreatiefste as ek myself een met die oomblik bevind, die nou waardeer,en die mees oop en eerlike weergawe van myself is.

Hoe bly jy gemotiveerd tydens moeilike tye?

My loopbaan is vir my baie meer as net n’werk, ek sien dit baie meer as n’roeping. Ek jaag nooit geld of enige aardse besittings na nie. Ek is een met my werk en voel bevoorreg om elke dag op te kan staan en te doen waarvoor ek lief is terwyl ek terselfdertyd die lewens van ander kan verander. Of dit nou deur ’n verwere huis op te knap vir n’familie wat al deur moeilike tye is, of om mense weer van binne af te laat gloei met die hulp van estetiese medisyne. Ek beskou wat ek doen nie net as my brood en botter nie maar die my lewensbloed. In my mening is uitdagings uiters belangrik. Dit help mens groei en al is die af dae nie altyd maklik nie, is dit wanneer ek myself probeer herinner hoe bevoorreg ek is om my passie te kan volg en n’verskil te maak in die lewens van ander.

Hoe vergelyk die wêreld van musiek en televisie industrie?

Albei mediums is storieverteller mediums, maar ek bevind dat die medium van musiek kan dinge beskryf wat mens dalk nie soos op televisie in woorde kan uitdruk nie. Op die einde van die dag bly albei vorms van kuns, elk net met sy eie voordele, nadele en uitdagings, maar steeds bly dit absoluut die moeite werd.

Wie is jou rolmodelle en hoe het hulle jou beïnvloed?

Daar is soveel mense na wie ek opkyk en wie my inspireer en druk om die beste weergawe van myself te wees. By my pa het ek ongelooflik baie opgetel as dit kom oor besigheid. Hy was vir jare ‘n bevelvoerder in die polisie met baie mense wie onder hom gewerk het, maar wat uitgestaan het was hoe hy almal met respek hanteer het, nederig was oor die kennis van ander in velde waarin hy nie so bekwaam was nie terwyl hy steeds ‘n goeie verstandhouding behou het van elke aspek van die werk. My ma het my geleer om detail georiënteerd te wees, en al kan dit soms ‘n irriterende en tydsame proses wees, spreek die eindresultaat altyd boekdele oor die belangrikheid en aandeel van fokus op die “nitty – gritty”. My besigheidsvernoot Richard Opperman, verstom my soms met sy besigheidsbrein. Hy het net ‘n unieke vernuf om ons besighede konstant met die nodige druk vorentoe te laat groei. Dit is verseker een van die grootste eienskappe wat ons as ‘n span net sterker maak..

Luister Vuur en Vlamme hier:

Vuur en Vlamme is beskikbaar op alle digitale stromingsplatforms. Kry dit hier: https://lnk.to/VuurEnVlamme

Leave a Reply

error: Content is protected !!