Die twee bekroonde sangers en liedjieskrywers, Joshua na die Reën (JNDR) en Karlien van Jaarsveld het op 2 Februarie 2024 hulle liefdes-duet vrygestel wat luisteraars en aanhangerss se asems behoorlik weggeslaan het. Beter Vir Ons Albei is ‘n hartroerende popliedjie, uit die ateljee van Gideon Botes, wat gaan oor die bakens wat jy vir jouself in die lewe stel, sodat jy kan onthou hoekom jy hier is en wat jy moet doen.

Vir Jacques is dié samewerking ’n groot voorreg omdat hy groot waardering het vir Karlien se menswees, talent en stem, en ook omdat hulle albei die persoon geken het oor wie die liedjie gaan. “Dis nou nie ’n duet wat mense sou verwag het nie, maar ek bewonder iemand wie se uitkyk oor musiek nie net is om vermaak te wees nie, maar iets moois en heilig na die wêreld te bring,” sê hy.

Van Jaarsveld stem heelhartig saam en meen dat sy baie gemaklik gevoel het om saam met JNDR te werk. “Hy kyk anders na die wêreld, sien meer as net dit wat voor hom staan en laat jou toe om net jouself te wees. Hy is ’n diep denker, soos ek, en so musikaal! Definitief een van my heel gunsteling kunstenaars,” voeg sy by.

Wanneer ek skryf, word die atmosfeer om my gewoonlik tasbaar. Soms is dit lig en ander kere donker. Amper soos wanneer jy na ‘n donderstorm buite in grasvelde loop of in ‘n dik mistigheid staan. Die teenstryd daarvan om te mag skryf en te skep neem my al jare lank op ‘n buitengewone ondekkingsreis van die lewe, en hoe dit werk, en van wie ek as mens is en wie ek wil wees. Hierdie ervarings met die lewe vloei dan uit in die vorm van woorde op papier en melodië wat daarmee vloei soos ‘n rivier. Die vreemde ding is dat baie inspirerende skeppings gebore is uit seer of donker plekke binne die skeppers daarvan. Soms laat die verpakking hiervan dit heel anders oorkom as die oorspronklike gevoel of emosie. Ek weet hierdie klank is dalk nie die tradisionele Joshua na die Reën klank nie, maar om te kon eksperimenteer hiermee was vir my ‘n goeie ervaring, juis omdat my geneigdheid is om altyd die teenoorgestelde rigting te ondersoek. As jy my gaan vra waaroor “Beter vir ons Albei” gaan, gaan dit nie ‘n baie opgewekte gevoel in jou hart los nie, maar ek kan jou belowe dat jy geïnspireerd sal wees wanneer die storie deur jou gedagtes se valleie kleur en lewe kry.” verduidelik Jacques.

Die musiekvideo, wat gebou is rondom ’n aangrypende lewendige optrede, is nou ook beskikbaar. Die musiekvideo is by die Palace of Justice verfilm met sekere gedeeltes wat ook by Pierneefskraal opgeneem is. Die video is vervaardig deur Jaen Kleynhans en Jan Du Plessis as Kinematograaf. Buiten vir die twee kunstenaars wat mekaar met gemak op die verhoog aanvul, is slim beligting ook gebruik om die teer emosie van die lied te komplimenteer en die eindproduk hou kykers vasgenael totdat die laaste note wegraak.

Kyk die musiekvideo hier:

 

Leave a Reply

error: Content is protected !!