Die bekroonde country-sanger Daniel Wesley se nuutste enkelsnit Leef is ‘n liedjie met ‘n country-skop, maar dit beweeg weg van die meer tradisionele klanke en die eindresultaat is ’n country-rock goedvoel plesier.

Daniel, wat al onder meer as beste manlike sanger by The South African Country Music Awards bekroon is, het in Februarie vanjaar tot die Afrikaanse musiekmark toegetree met die enkelsnit Huis Is Waar My Hart Is. Die snit is goed deur plaaslike radiostasies en die publiek ontvang, en hy het sedertdien ’n huishoudelike naam geword

Daniel het vir homself in Nashville, Texas met verskeie Engelse country-treffers naam gemaak. Dit is ook dá waar hy sy stem tot Kip Moore-kwaliteit geslyp het.

Maar dié aantreklike boerseun, wat oorspronklik van die Vrystaat afkom, se hart het maar nog altyd ’n gedoef-doef in Afrikaans. Daniel se pen is definitief in goud gedoop, want Leef  is een van sy musikale hoogtepunte.  Sy stem is soos verouderde Gouda-kaas. Ryp, goed gemoduleer en ’n plesier om na te luister.

Die snit dra ’n sterk boodskap oor dat die lewe kort is en dat ons voluit moet leef.   “Ons moet op hou om dinge uit- of af te stel, want more is dalk te laat.” Daniel het ’n fyn aanvoeling vir die Afrikaanse taal, alliterasie en idoom. Dit kan ook gevind word in die lirieke… “soos ’n road trip op ’n verlate pad… wind en water in my hare voel…

Die snit neem jou op ’n reis deur die lewe; om onder die sterre te dans en te slaap, om liedjies te sing, om die wêreld op horings te neem. Ja, ons tyd op aarde is net geleen. “Ek glo ons moet ’n kruisie by elke ding op ons emmerskoplys trek . Ek het ook besluit om dinge te doen waarvoor ek nog altyd bang was. Dus, moenie bang wees om uit jou gemaksone te beweeg en nuwe dinge aan te pak nie.”

Daniel is nie ‘n onbekende stem in die musiekbedryf nie. Hy was jare gelede deel van die Bloemfonteinse rockgroep K2 waar hy die kitaar gestreel het en ook soms as agtergrondsanger opgetree het. Sy gevoelvolle stem is ’n welkome toevoeging tot die Suid-Afrikaanse musiekbedryf en hy is op pad om baie bekend te word.

Leef is deur Darryl de Lange opgeneem en vervaardig.

Leef is beskikbaar op alle digitale platforms.

Leave a Reply

error: Content is protected !!