Die talentvolle sanger, Elzabi Buek, wil vroue inspireer om die kern van hul vrouwees te herontdek met haar nuwe enkelsnit, Rooi Stilettos. Hierdie pop danssnit, uit haar eie pen, is haar derde vrystelling en sy is opgewonde om dit met bewonderaars te deel.

Volgens haar, is Rooi Stilettos ʼn teken van selfvertroue, sterkwees, mooiwees en vrouwees. “Tradisioneel mag die vrou nie die eerste stap neem in ʼn verhouding nie en moet sy met pantoffels voor die stoof staan, maar hierdie lied is ʼn baken van nuwe hoop vir ʼn generasie vroue wat weet wie hulle is en wat hulle wil hê en nie huiwer om selfstandig en dapper te wees nie,” verduidelik sy oor die inspirasie agter die lied.

“Te veel vroue is vasgevang in kleurlose lewens sonder opwinding. ʼn Oormaat verantwoordelikheid, eentonigheid en die konstante gejaag na wind is geneig om ons vaal te laat. Ek wil meisies aanmoedig om so nou-en-dan die kinders by ouma af te laai en ʼn date night in hulle rooi hakskoene aan te pak.”

Elzabi meen dat byna elke vrou daarby kan baat om ʼn paar rooi hakskoene in haar kas te hê. Sielkundiges het bewys dat wanneer ʼn vrou hoëhakskoene aantrek, haar selfvertroue die hoogte in skiet en dis presies net waarna sy mik met hierdie snit: “Ek voel dat hierdie liedjie goed ontvang sal word deur die publiek, want dit is lekker vrolik en vol inspirasie vir die vroue daar buite. Daarmee saam, spog dit met ’n opwindende partytjie-gevoel en ook ʼn tikkie romanse.”

Met die musiekvideo, vervaardig deur Stolz Media, wou hulle graag die idee agter die liedjie uitbeeld. Die skoonheid van ʼn vrou sit nie in haar danspassies, broekgrootte of voorkoms nie, maar eerder in haar selfvertroue, glimlag en hart. Vrouens loop almal hulle eie paaie vol uitdagings, maar met ʼn paar rooi hakskoene op doelgerigte voete en ʼn glimlag wat stories vertel, kan hulle netsowel die pad stap terwyl hulle pragtig lyk in Rooi Stilettos.

“Die musiekvideo is geskiet in die Tabak Teater van die La Taureau Restaurant in Rustenburg,” verklap Elzabi oor die video. “Ons het met die Marilyn Monroe-tema gewerk, want sy was ook ʼn selfversekerde vrou en glad nie bang om waaghalsig te wees nie.”

Elzabi is al vir twee-en-twintig jaar aktief in die musiekbedryf betrokke en het haar liefde vir musiek by haar ma gekry, wat konstant in hulle huis musiek gespeel het terwyl sy saam gesing het. Sy het op driejarige ouderdom begin sing, waarna haar ouers haar op die tafel getel het en ʼn geldjie betaal het om hulle te vermaak.

“Ek het as kind begin om musiek op gehoor te speel en niemand wou vir my klasgee nie, want ek kon nie note lees nie,” sê sy oor haar natuurlike aanvoeling vir musiek. “Ek het net eenmaal ʼn stuk gehoor en dan het ek dit gespeel sonder bladmusiek.”

Op hoërskool het dié veelsydige vrou musiek as vak geneem, waar sy toe genoodsaak is om te leer note lees. Later het sy ook haar eie musiek begin skryf en toonset. Vandag speel sy klavier, klawerbord, kerkorrel, kitaar en ʼn bietjie panfluit.

Hoogtepunte het sy baie van: Om ʼn vroulike kunstenaar te wees wat genooi is om by die Mighty Men-konferensies te sing is bo-aan haar lys. “Om so baie mans te hoor ‘Amen’ skree en te sien hoe hulle die Here loof en prys, was ʼn belewenis soos min ander,” vertel sy oor haar ervaring.

Verder het sy nog baie ander prestasies op haar kerfstok. Buiten vir ’n nommer-een-album en talle nommer-een-treffers, het sy ook al verskeie benoemings gekry vir haar werk gekry en onlangs ’n Melomaan-toekenning gekry vir Liedjie van die Jaar vir Rooi Stilettos.

Dié passievolle sanger en liedjieskrywer put haar inspirasie uit gebeurtenisse, lewenslesse en boodskappe wat sy wil uitdra aan haar gehoor. Sy skryf net as sy gelukkig is, want sy wil nie haar hart verklap in seer tye nie.

Daar is baie kunstenaars saam met wie die sangeres nog graag eendag wil werk en sy sê: “Omdat ek van ʼn groot verskeidenheid musiek hou, sal ek nog graag saam met Tarryn Lamb, Dirk van der Westhuizen, Juanita du Plessis en Rudi Claase wil werk.”

As daar een ding is wat die industrie deur die jare vir Elzabi Buek geleer het, is dit dat niks tot stand kom sonder harde werk nie. Tans is sy besig met ʼn nuwe enkelsnit, maar vir nou is sy opgewonde vir haar aanhangers om hulle Rooi Stilettos saam met haar aan te trek.

Leave a Reply

error: Content is protected !!