Verhoudings vat baie werk en uithouvermoë, veral met al die uitdagings wat die lewe na jou kant toe gooi. Wanneer jy dit regkry, is dit uit en uit die moeite werd omdat dit oneindige voordele inhou.

Dít is die boodskap agter die gesoute musikant, Wouter van de Venter, se nuutste enkelsnit wat geïnspireer is deur sy vrou en muse, Anita.

My Bok is ’n terugblik op hulle lewe saam. “Na so veel jare saam kyk ’n mens terug na al die hoogtepunte en laagtepunte van ’n verhouding. Na al die drome wat julle saam gehad het en al die moeilik tye wat jul al saam deur gemaak het. Wanneer jy sien hoe dinge uitgedraai het, besef jy dat julle altyd daar sal wees vir mekaar – ongeag van wat gebeur,” verduidelik hy. “Ek noem my vrou al vir jare ‘Bok’ en sy my ‘Beer’, dis maar hoe dit is in ons huis.”

Die snit, wat beskryf word as ’n bietjie country en ’n bietjie rock, kom uit Wouter se eie pen en is vervaardig deur Weskus Studio en Coolerbox Records. Dit volg in die suksesvolle voetspore van ’n hartroerende duet saam met die bekroonde sangeres, Nianell, getiteld Ek Val.

Net soos My Bok, het hierdie liedjie ’n universele tema wat gaan oor die lesse wat ons oor die afgelope twee jaar moes leer.

“Maart 2020 was ’n moeilike tyd wat ons lewens vir altyd kom verander het. As ’n musikant, kon ek nie werk nie en die onkostes het nie minder geraak nie. Ek het eerlikwaar nie meer geweet watse kant toe nie. Maar ek was nie alleen nie,” vertel Wouter. “Ek het uitgereik na ou kollegas en vriende, waaronder Nianell, en so is ‘Ek Val’ gebore. Die doel daarvan was om vir luisteraars hoop te gee in moeilike tye.”   

Inperking het ’n groot impak gehad op Wouter se lewe. Hy het egter die meeste gemaak van hierdie uitdagende tyd. My Bok is dié sanger en liedjieskrywer se derde enkelsnit in ses maande. “My doelwit vir 2022 is om op te maak vir dit wat tydens inperking verlore gegaan het,” sê hy. “Ek werk konstant aan nuwe liedjies en idees. Ek hou van ’n lekker uitdaging en gee nie op wanneer onsekerheid my oorval nie.”  

Sy nuutste enkelsnit word gekomplementeer deur ’n pragtige musiekvideo wat op mede-musikant, Dozi, se plaas verfilm is deur Vonk Musiek.

Kyk die video hier:

Met dertig jaar se ondervinding in die musiekbedryf, kan Wouter – wat musiek, uitvoerende kunste en jazz aan Pretoria Technikon studeer het – beslis as ervare bestempel word. Hierdie bekroonde kunstenaar was vir ses jaar Laurika Rauch se kitaarspeler en ook die stigterslid van Ses Snare. Buiten vir talle optredes plaaslik en oorsee, het hy ook al treffers geskryf vir verskeie kunstenaars. Alhoewel hy al baie hoogtepunte in sy loopbaan beleef het, sonder hy sy vertoning saam met Laurika Rauch by die Royal Albert Hall in Londen uit as sy gunsteling-herinnering.

Bekend daarvoor dat hy sy eie ding doen, erken die sanger dat hy groot bewondering het vir Peter Gabriel se musiek. Hy het ook ’n sagte plek vir alles wat Afrikaans is – solank dit natuurlik goed gedoen is.

Verder is hy ’n gesinsman en kosliefhebber wat mal is oor kook, braai en kuiers saam met vriende. Hy is ook die eienaar van Weskus Studio. Hy verklap: “Ek is gebore om musiek te maak en geniet elke dag ten volle.”

My Bok is nou beskikbaar op digitale platforms.

“Ek dink mense sal aanklank vind by die lied omdat ons almal die afgelope twee jaar in dieselfde bootjie was en die meeste van ons al in ’n spesiale verhouding was met iemand,” sluit hy af.

Leave a Reply

error: Content is protected !!