Cezanne Yzelle se nuutste enkelsnit In Jou Arms Slaap roep beelde van ‘n rokerige kroeg op waar die sensasionele sangeres op ‘n klein verhogie ‘n uitgelese verhoog vermaak.

In Jou Arms Slaap wat deur die talentvolle Bloemfonteinse liriekskrywer Arno de Wet neergepen is, is seker een van die beste liedjies wat vanjaar in Afrikaans uitgereik is.

Arno het ‘n ongelooflike talent.  Ons ken mekaar al ‘n hele ruk lank. Dit is die tweede enkelsnit wat hy vir my geskryf het en ek dink hy verstaan my hart, my menswees en die boodskap wat ek met my musiek wil oordra,” vertel sy. “Hy het die liedjie ook getoonset ,maar hy het my genoeg musikale vryheid gegee om ook die liedjie my eie te maak.

‘n Mens kan dit seker as eksperimentele avant-garde pop beskryf wat Cezanne se donker sjokolade alt perfek pas.

In Jou Arms Slaap is die vierde enkelsnit wat sy binne ‘n baie kort tyd uitgereik het, en sy glo dat met elke liedjie wat sy aanpak moet sy ‘n ander faset van haar stem en menswees met haar luisteraars deel. “Ek dink my hart agter die musiek het gegroei. Met my tweede enkelsnit was dit makliker om my siel te openbaar, want dit was ‘n baie persoonlike liedjie” sê sy.

Cezanne, wat haar musiekdebuut in verskeie musiekblyspele gemaak het, het verlede jaar – veral kommersieel naam gemaak met haar enkelsnit Waar Ek Moet Wees. Met die liedjie het sy bewys dat sy nie net tot een genre beperk kan word nie; haar stem kan tussen hoë- en lae note ronddans, en sy kan ook met gemak tussen jazz, pop, ballades en selfs rock ronddans. Hieroor sê sy: “Ek het myself nog altyd as ‘n veelsydige kunstenaar beskou. Ek het wel in musiekblyspele opgetree, maar ek het ook al tussen pop en rock rondbeweeg.”

Op ‘n Vrydagaand is dit soms net ek en my kitaarspeler op die verhoog, op ‘n Saterdagaand sing ek dalk weer saam met ‘n simfonieorkes op die verhoog en op ‘n Sondagaand lei ek die aanbiddingdiens in ons kerk.

Ek wil myself nie as ‘n musikale verkleurmannetjie beskou nie, want om eg te wees, is vir my baie belangrik. Maar ek dink ek vind iets in elke genre wat met my praat.

“In Jou Arms Slaap, sê sy is net soos haar vorige enkelsnitte ‘n baie persoonlike liedjie. “Ek wou ook aan myself bewys dat ek nie met alles wat ek aanpak die sogenaamde “geldnote” hoef raak te slaan nie, maar om oor die nodige sensitiwiteit beskik om liefde nie goedkoop te laat klink nie.”

In Jou Arms Slaap is ‘n liefdesliedjie, wat die tipe liefde  waaroor ‘n mens net kan droom, beskryf. Dit is ‘n lied wat die liefde as toevlug beskryf; iets waarna ‘n mens uitsien om elke dag opnuut te deel. “Toe ek die eerste keer daarna luister het dit aan my hartsnare gepluk en ek was weer opnuut dankbaar vir my wonderlike man.”

Met In Jou Arms Slaap bereik Cezanne nuwe musikale hoogtes. Die liedjie is ‘n oomblik-liedjie; ‘n eerste-dans-op-die-troue en ‘n geniet liedjie tydens ‘n romantiese ete.

In Jou Arms Slaap is beskikbaar vandag op alle digitale platforms.

Sosiale Media: Facebook, Instagram

Leave a Reply

error: Content is protected !!