Dit kan nogal betowerend wees om gedurende ’n vakansie verlief te raak – die weer is lekker; jy is vry om in die oomblik te leef en dit voel asof enigiets moontlik is. Dit is dan ook presies waaroor die sang sensasie, Candy Benson, se nuwe enkelsnit, 7 Dae In Die Somer, gaan.

Dié liedjie, wat deur Candy en Dylan Emslie (haar kêrel en kitaarspeler) geskryf is, vertel die storie van ’n vakansieromanse wat in iets meer ontaard…

Volgens Candy is die inspirasie agter die liedjie die feit dat sy self haar sielsgenoot gevind het en nog nooit so gelukkig was nie. “Die liedjie is baie spesiaal. Dit is die eerste een wat ek en Dylan saam geskryf het en is ’n refleksie van hoe ons oor mekaar voel.”

Omdat die tema van verlief wees so universeel is, glo Candy dat die snit by ’n groot gehoor sal aanklank vind. “Die liedjie gaan oor verlief wees en of jy pas iemand ontmoet het en of jy nou al vir jare saam met iemand is, sal 7 Dae In Die Somer jou laat glimlag en laat dink aan die mooi herinneringe wat julle saam het. Die lirieke is diep en betekenisvol en die wysie opgewek. Dit is regtig ’n goedvoelliedjie.” 

Candy is beslis nie ’n vreemdeling in plaaslike musiekkringe nie. Sy is al van jongs af op die verhoog en het Suid-Afrika twee keer by die Wêreldkampioenskappe van Uitvoerende Kunste verteenwoordig in Los Angeles, op die ouderdom van nege en twaalf. Hier is sy as Junior Wêreldkampioen in die Rock-kategorie bekroon en het sy verskeie goue- en silwermedaljes vir ander genres verower. Haar eerste enkelsnit is uitgereik toe sy agtien was.

Haar debutalbum, Niks Kan My Keer Nie, is in 2014 vrygestel en is benoem vir ’n Ghoema-toekenning vir Nuweling van die Jaar. Haar tweede album, Onweerstaanbaar, het in 2017 gevolg en vir haar nog ’n Ghoema-nominasie besorg, dié keer vir Beste Kontemporêre Album. Die kunstenaar het ook ’n lys gewilde treffers in enkelsnitte en musiekvideo’s uitgereik, soos Onweerstaanbaar, Kiss You Forever, Niks Kan My Keer Nie, Dit Wat Ons Harte Deel (met Willem Botha), Sonder Jou, Vat Die Kans, Stywer Vas, en vele meer.

Sy erken ook dat haar pad na sukses nie altyd maklik was nie. “Om naam te maak in die Suid-Afrikaanse musiekbedryf is nie maklik nie. Dit verg harde werk, lang ure, deursettingsvermoë, passie en ’n liefde vir die kunste. As opkomende kunstenaar, moes ek my deel doen. Daar was baie struikelblokke, maar met elke terugslag het ek geleer om op te staan, harder te werk en om sukses te waardeer.”

Natuurlik het sy oor die jare ook verskeie prestasies en hoogtepunte bereik. “Dit was vir my ’n groot eer om saam met Laurika Rauch en Riana Nel benoem te word vir ’n Ghoema-toekenning vir Beste Kontemporêre Album van die Jaar en om een van die publiek se vyf benoemdes te wees vir Gunsteling Vroulike Kunstenaar. Ek voel egter dat my hele loopbaan sover baie geseënd was en dat ek elke dag die geleentheid kry om ongelooflike mense te ontmoet en uitsonderlike ervarings te hê.”

Die sangeres, wat haar musiekstyl beskryf as uniek, modern en passievol, het groot bewondering vir kunstenaars soos Corlea Botha en Ruhan Du Toit en sal graag eendag saam met hulle, Biggy en Early B wil werk. Oor die algemeen glo sy egter dat Suid-Afrika oorvloedige musikale talent het.

Candy, wat ewe tuis op die verhoog as in die bosveld is (sy is ’n gekwalifiseerde wildbewaarder), is tans besig om nuwe musiek te skryf en op te neem en beplan ook om binnekort ’n nuwe musiekvideo te skiet en vry te stel (afhangende van die regulasies rondom die pandemie). Verder is sy ook ’n ambassadeur vir die Reach for a Dream-stigting en CANSA.

7 Dae In Die Somer is hierdie talentvolle sangeres en liedjieskrywer se sestiende enkelsnit en dit gaan beslis in die voetspore van sy suksesvolle voorgangers volg.

7 Dae In Die Somer is alle digitale platforms beskikbaar wees.

Sosiale Media: Facebook | Instagram | Twitter | Webblad

Leave a Reply

error: Content is protected !!