“Dit is ‘n enkelsnit met gas.”

So beskryf Charles Smidt, voorsanger en stigterslid van die boerepunk-rockgroep Beeskraal, hul nuutste enkelsnit Storm wat pas uitgereik is.

Die liedjie, wat beskryf word as eg en rou, verskyn op Beeskraal se veertiende vollengte album Afrikana Osbloed wat die jaar vrygestel word.

Charles sê Storm,  wat deur die liriekskrywer en sanger Abel Kraamsaal geskryf is, is een van die heel beste liedjies in Afrikaans.  Hoewel Abel reeds dié liedjie in 1998 gesing en opgeneem het, kon hy die woorde en die musiek net so wel vir Beeskraal geskryf het.  Charles, wat ook bekendstaan as sommer net Charlie het ‘n goed verouderde digterstem en die rock-liefdesballade is bokshandskoenpas vir sy stem.

Die liedjie handel oor die liefde, maar dit neurie nie op dieselfde toonhoogte as borrelgomliefdesliedjies nie (dit is eintlik ‘n sonde om die woord borrelgom en Beeskraal in dieselfde sin te gebruik.)  Dit is diep, dit is hartroerend. Dit is so eg soos ‘n mynwerker se oggendballade aan sy geliefde. “Maak nie saak hoe kwaad jy vir jou geliefde is nie; as jy werklik jou sielsmaat gevind het en julle mekaar elkedag koester, sal julle enige storm kan weerstaan en mekaar altyd nodig hê,” sê Charles.

Die koor gedeelte van die liedjie eggo ook sy woorde: “… jy bly storm, jy bly kwaad, jy bly liefde so tussendeur die haat, maar jy bly verlossing in die oggend as ek na jou vra.”

Beeskraal, wat ook met heelwat toekennings bekroon is, het 21 jaar gelede ontstaan. Binne ‘n paar maande was hulle op elke liewe student se bierasem. Hulle was die skakel tussen die destydse Voëlvry-beweging en die nuwe generasie se Fokofpolisiekar. Hulle ondersteuners het saam met hulle ouer geword, maar hulle kinders en (selfs) kleinkinders aan Beeskraal se eg Suid-Afrikaanse klanke bekendgestel.

Charlie sê die groep se sukses kan toegeskryf word aan die feit dat hulle nie wegbeweeg het van hulle oorspronklike klank en styl nie. ‘n Mens peuter net nie aan ‘n wenresep nie, sê hy.

“Ons het deur die jare met verskillende styl, soos baie internasionale groepe ook maar doen, geëksperimenteer.  Met twee van ons albums het ons van ons styl af weg beweeg. En dít het nie gewerk nie. Ons het besluit om by ons wortels en oorspronklike klank te bly soos AC/DC en die Stones. Om altyd by tye en by nuwe groepe se style aan te pas werk nie altyd nie. Ons dink die Boerepunkresep werk omdat ons die eerste groep in Suid-Afrika was wat met die styl geëksperimenteer het,” sê Charles.

Die groep het deur die jare verander; ou lede het die groep verlaat en nuwe lede het dromme geslaan. Dit is waarom die liedjie ook so lekker is. Baie van die oorspronklike lede van die groep waaronder, Jasper van Rensburg, het aan die opname van die liedjie deelgeneem.

Storm is nou wel net ‘n vars verpakte Adam Kraamsaal-weergawe, maar Dawie de Jager (oud-Klopjagman) het tydens die opname en musikale verwerking van die snit Beeskraal se boereklanke en styl behou.

Enige Beeskraal-aanhanger sal hulle diepe waardering vir die liedjie uitspreek. Dit is Beeskraal op hul beste.

Storm is beskikbaar op alle digitale platforms.

Sosiale Media: Facebook | Instagram

Leave a Reply

error: Content is protected !!