Elke vrou se begeerte in die lewe is om net mooi genoeg, braaf genoeg, sterk genoeg, vrou genoeg te wees…

Jy sal sweef op Skouers van genoeg-wees…”

Is dit nie elke vrou se begeerte in die lewe nie? Om net “genoeg” te wees.

Mooi genoeg, braaf genoeg, sterk genoeg, sag genoeg, geduldig genoeg, suksesvol genoeg, vrou genoeg….

Bogenoemde eienskappe is almal bereikbaar, maar dis nie die “genoeg” waarvan Corinne Badenhorst – ‘n Bloemfonteinse arbeidsterapeut – in haar storie-joernaal vir vroue-harte praat nie.  Hierdie idee om so ‘n joernaal uit te gee is as jong meisie in haar hart gebore toe sy die fliek van Meryl Streep, Pay it Forward, gekyk het en die droom by haar ontstaan het om ook eendag iets soortgelyks te laat gebeur.

Om te “sweef op die Skouers van genoeg wees“, is ‘n moeitelose besef – maak nie saak wat die wêreld of selfs jou eie gedagtes oor jou sê nie… sodra jy weet Wie s’n jy is – is jy GENOEG!

Blinkers vir ‘n Blomtuin is méér as ‘n storie-joernaal wat vroueharte toelaat om selfondersoek te doen. Dit ontlok vrae oor die dorings en blinkers wat gepaard gaan met die alledaagse of  “uitskieter-emosies” van die lewe. Die woorde van die boek word ondersteun deur waterverf sketse en ‘n lied genaamd Blinkerboom – albei deur Anique Jordaan (een van die lede van die sang-duo Kaleidoskoop) Hierdie terapeutiese hulpmiddels help die leser om dít wat sy lees te visualiseer en te hoor en daarop te reageer en te mediteer.

Daar is selfs elemente uit die boek in die vorm van juwele beskikbaar – sodat lesers aan die betekenis daarvan herinner kan word.

Corinne en Anique se paaie het ‘n paar jaar terug met Corinne se kinderboek Blinkerboom gekruis en sy het Anique gevra om kommentaar op die boek te skryf.  Die boek het Anique geïnspireer om ‘n lied met dieselfde naam te skryf, maar dié is eers in September 2020 voltooi en toe slegs digitaal saam met Blinkers vir ‘n Blomtuin vrygestel waar die lied as hulpmiddel vir nadenking saam met die boek gebruik word.

Hierdie inspirerende lied, wat ook Anique se eerste solo enkelsnit is kom met ‘n unieke aanslag en verwerkings deur Ghoema-benoemde vervaardiger, Jattie de Beer (Douvoordag) en word nou vir die eerste keer ook aan radiostasies landswyd uitgereik.

Die lied met sy helende en strelende akoestiese klanke handel oor ‘n figuurlike boom wat in elkeen se hart groei.  Die boom dra blinkers in plaas van blomme wat jy dan kan gebruik om mense om jou se harte en lewens op te kikker en te help genees.  Maar, dis ook duidelik dat dit nie geforseer kan word nie – en die blinkers word nie “ontvang” as die Wind (Heilige Gees) dit nie dra en in iemand vaswaai nie.  “Blinkerboom is ‘n lied van hoop dat elkeen sal weet hoe geliefd hulle is deur God en die mense wat vir hulle omgee”, sê Anique.

Dit is beskikbaar op iTunes en by https://blinkerboom.co.za/store/category/musiek

Anique se waterverf sketse verskyn ook in Blinkers vir ‘n Blomtuin.  Corinne het in vlak vyf grendel-tyd hiérdie merkwaardige stokperdjie van Anique op Instagram raakgesien en haar genader om die storie te lees en sketse vir te doen.

Ons wil nie hê hierdie moet net ‘n boek wees nie – ons wil hê dit moet ‘n beweging word. Waar ma’s en dogters, vriendinne, kollegas…. vroue vir mekaar die boek kan koop, saam daardeur werk indien nodig, mekaar ondersteun. Om sodoende hul blinkers te saai in ‘n tyd waar elke vrou nodig het om te besef en weet dat sy genoeg is.

Ons hoop dit kan groei tot iets nóg groter! Dames-tees – om sommer die vreugde-koppies weer te laat oorloop; skool-praatjies – waar jong meisies kan leer om mekaar op te bou ipv afkraak; nóg liedjies; nóg boeke… tot die Blinkerboom ‘n Blinkerbos geword het!” sê Corinne en Anique.

Blinkers vir ‘n Blomtuin is ‘n wonderskone boek van delikate illustrasies en onvergeetlike metafore.  Dit lyk soos ‘n veld vol kosmos… totdat die geweldige boodskap jou in die hart tref, om jou lewe onomkeerbaar te verander.” – Maretha Maartens

Blinkers vir ‘n Blomtuin sal jy klein skrefies lig raaklees, waarvan jy later die deure sal kan oopmaak en dan in gelykheid met die lewe rondom jou sal kan wandel.”  – Joshua na die Reën

Blinkers vir ‘n Blomtuin herinner egter dat jy veel meer verdien as om met sakke vol seer die pad aan te durf, daardie dorings moet uit ten einde jy in vreugde kan voortgaan.  Dit is nie altyd ‘n maklike proses om van die seer ontslae te raak nie, maar dit is beslis die moeite werd.  Hierdie boekie is ‘n tipe handleiding wat met woorde, pragtige illustrasies, vragies en ‘n joernaal ‘n padkaart word wat jou kan lei en vergesel op jou pad na genesing.”  – Nadia Beukes

Blinkerboom is beskikbaar op iTunes as ook op Blinkerboom se webblad.

Leave a Reply

error: Content is protected !!