Zandri - Skildery

Zandri Botha, ’n graad 11-leerder aan die Hoërskool Pretoria-Noord, het vroeër die maand haar debuuttoetrede tot die Afrikaanse musiekmark gemaak met ’n enkelsnit, Skildery.

Skildery, wat uit haar eie pen verskyn het, spreek van diepte en volwassenheid. Eienskappe wat ’n mens nie aldag aan ’n tiener sou kon toedig nie. Die titel van dié snit sê ook presies wat die luisteraar kan verwag; die lirieke skep ’n visuele prentjie waar “die mooi in haar versteekte glimlag” gesien kan word.

Dié snit is ook nie ’n tipiese tiener-borrelopskop-popliedjie nie. Dié liedjie vertel ’n universele verhaal en daarom sal nie net tieners nie, maar ook volwassenes aanklank by die snit vind.

Dit is meer ’n tipe poprock-ballade wat ’n ode bring aan die skoonheid van ’n vrou, en dáárdie geheime wat die onbekende vroue wat in “olie” vasgevang is, nooit met ons sal deel nie.  Dáárdie geheime word ook uitstekend verwoord in die koorgedeelte van die enkelsnit…” As skilderye sou kon praat, is die waarheid ingekleur… daar is mooi in die krake van haar geheime…”

Dit het ’n melodie wat in jou kop vassteek, wat jy sal neurie en fluit. ’n Liedjie wat hopenlik nie in die argiewe van die tyd gaan beland nie.  Skildery is ook ’n metafoor van vrouwees, wat ons daaraan herinner dat daar skoonheid in elke krakie en lyn is…

Zandri, wat al sedert haar laerskooldae haar stem by kunswedstryde en op skoolverhoë laat hoor het, het ’n volryp en diep stem.  ’n Mens kan ook duidelik hoor dat haar stem afgerond is. Dit is te danke aan die afrigting van die Pretoriase sangonderwyseres Jolanda Becker wat haar stem tot amper-perfeksie gelooi en geslyp het.

Zandri beskryf haarself as ’n liedjieskrywer, sangeres, danseres en ook ’n kitaarspeler. Sy kon nou ook aktrise by haar curriculum vitae voeg, want sy het ook haar debuut in ’n korfilm gemaak wat op kykNET uitgesaai is.

Sy put haar inspirasie uit die natuur en natuurlik ook uit musiek. “Ek is baie lief vir die natuur en kan vir ure net sit en luister na die klanke van die natuur. Ek vind ook vrede as ek na enige musiekgenre luister. Musiek kan my dag ook net opkikker,” vertel sy.

Dié mooi sproetgesig vertel dat sy haar eerste note gesing voordat sy gepraat het. “Ek het my lewe lank al ’n passie vir sang en musiek. Ek het op laerskool begin kitaar speel en het al beide die elektriese- en akoestiese kitaar bemeester.”

Sy is ook ’n groot ondersteuner van Grand Prix-wedrenne en sy vertel dat sy nóóit ’n wedren mis nie.

Skildery is vervaardig en opgeneem deur Tjaart van der Walt.

Zandri is ’n opwindende nuwe toevoeging tot die musiekbedryf. Met haar eerlike, opregte en afgeronde musiek en lirieke sal sy aanhangers van alle ouderdomme en agtergronde nader te trek.

Zandri is ‘n stem wat nie gou gaan stil raak nie en met Skildery gaan sy ’n paar nuwe musiekharte verower.

Skildery is beskikbaar op alle digitale platforms.

Open in Spotify

 

Leave a Reply

error: Content is protected !!