Liefde Brand

Met sy geboorte het die dokters geglo dat Zandré Human nie normaal gaan ontwikkel nie; hy moes trouens nooit sy eerste lewenslig aanskou het nie, want hy is op 26-weke gebore en het skaars 900 gram geweeg.

Maar na baie gebede, geloof en liefde het hy,  nadat hy ongeveer ’n vir dag in ’n nierbakkie oorleef het,  soos ’n klein musikale hings begin runnik en binne die volgende paar jaar het die melodieë soos vonkelwyn deur sy are begin bruis.

Na jare se sangopleiding, deelname aan kunswedstyde en ’n lid van verskeie skool- en jeugkore het hy uiteindelik besluit om sy tenoorstem met die publiek te deel.

En met sy debuutenkelsnit Liefde Brand maak Zandré dié maand amptelik sy toetrede tot die Afrikaanse musiekbedryf. Die snit stel dit duidelik dat die liefde soos ’n vuur is wat nooit gaan uitbrand nie, ’n melodie wat nooit gaan verdwyn nie. Dus brand die liefde soos ’n musieknoot in mens se hart.

Liefde Brand is ’n Afrikaanse pop-dansliedjie wat uit die bekroonde liedjieskrywer Michael de Lange se pen verskyn het. Die snit beloof om luisteraars al dansend op ’n unieke liefdesreis te neem.

Kyk die musiekvideo hier:

Zandré het amper nie tot die musiekbedryf toegetree nie. Hy het tydens sy skooljare in ’n troeteldierwinkel gewerk en nadat hy aan die Hoërskool Kemptonpark aan die Oosrand gematrikuleer het, het hy ’n paar draaie in die handelsbedryf gemaak.

Verkope was egter nooit sy grootste liefde nie en hy het besluit om hom maar eerder op musiek toe te spits. Net voordat die Covid-19 pandemie die wêreld getref het, het hy besluit om sy eerste vollengte album by Angel Music Studio Productions op te neem.

Hoewel dié album nooit groot kommersiële sukses behaal het nie, glo Zandré dat hy waardevolle musiek- en lewenslesse geleer het.

Hy het vroeër die jaar vir Ernie Bates, ’n voormalige lid van die wêreldbekende groep Overtone ontmoet, en het besluit om weer te probeer. “Ek glo dat God ’n plan vir my lewe het, en sonder Hom sou ek nooit regtig daarin gedink of oor gedroom het om ’n sangloopbaan te begin nie,” sê Zandré.

Ernie, wat deesdae ook ’n bekende musiekvervaardiger is, het vir  Zandré onder sy musikale vlerk geneem en hom noot-vir-noot bygestaan.

“Ek het geweet dat ek graag ’n enkelsnit wil vrystel, maar ek het nie ’n liedjie gehad nie. Daar het wel iewers ’n melodie in my kop gedraai. Dit is toe dat Michael besluit het om Liefde Brand spesiaal vir my te skryf,” vertel Zandré.

Daarom pas die snit ook goed by sy stem en die lirieke sal in jou kop bly maal.

Zandré is nog ’n nuweling in die musiekbedryf, maar met sy talent, persoonlikheid en voorkoms (hy is nogal heel sag op die oog) kan sy liedjie binnekort op radiostasies se treffersparades boer.

Liefde Brand is beskikbaar op alle digitale platforms.

Open in Spotify

Leave a Reply

error: Content is protected !!