C-Storm - Skoenlapper

Die sanger, skrywer en digter Carel Sebastiaan, ook bekend as C-Storm, het homself die afgelope twee jaar bewys as een van Suid-Afrika se eie Afrikaanse rock ’n roll-troebadoere. Sy liedjies wals nie net met die lirieke nie, maar hy tango ook blitsvinnig met musieknote en sy stem.

Só saam met sy jongste enkelsnit, Skoenlapper, het Carel Sebastiaan ’n digbundel uitgereik wat lirieke en gedigte bevat wat die afgelope dekade uit sy pen voortgespruit het.

Dit spreek van diepte, geheime en soms onbevange digterlike vryhede wat liriekskrywers soms te bang is om na te jaag.

C-Storm het ’n goeie aanvoeling vir woorde en hy het ook die tegniek van digkuns bemeester: die fyn (en somtyds nie so fyn nie) suggesties van rym en ritme en anafore.

Die titel van die bundel “Ritmies tussen lyne” is ook tematies van sy lirieke wat wissel van liefdesgedigte, ballades en metafiktiewe narratief.

Skoenlapper is dan ook een van die gedigte wat hy onlangs getoonset het. Die gedig verskyn ook in die bundel en is die eerste enkelsnit van ‘n album, wat hy self na verwys as ‘n “klein projekie”, wat uit ‘n paar voorgelees gedigte en vyf rou akoestiese liedjies bestaan, ook getiteld “Ritmies tuessen lyne”.

Dit is ’n byna aweregse, rou akoestiese, rock-ballade wat die skoenlapper as ’n simbool gebruik om die donkerheid (en ook ligter kant) van menslike vreugde, pyn en verlies uitbeeld.

Dit word goed verwoord in die vierde vers:

“ …  ’n deuntjie wat aanhou draal, in my kop rondgemaal, vir my sondes reeds betaal kruip weg voor die stilte my kom haal…”

Oor Skoenlapper sê hy: “As ons as mense maar net so dapper soos ’n skoenlapper kan wees … dit is klein en fyn, maar tog volmaak en probeer nooit teen die wind vlieg nie, maar eerder saam met die wind.”

Volgens Carel Sebastiaan is die doel van die liedjie om mense te laat onthou dat ’n skoenlapper nie net uit die nuut verskyn nie, maar dat dit deur ’n proses moet gaan van larwe tot papie tot skoenlapper. “ “So is die lewe ook, ons moet soms hard werk om aan die anderkant van ’n moeilike situasie uit te kom, gelukkig net soos ’n skoenlapper, bly ons nie altyd ’n wurm nie en is ons ook nie vir ewig in ‘n kokon vasgevang nie.”

Kyk die musiekvideo hier:

Alhoewel Carel Sebastiaan, of te wel C-Storm, eers op die ouderdom van 49 tot die musiekbedryf toegetree het, is sy debuutalbum, “Haal Asem” deur die FAK (Flink Afrikaans) aangewys as een van die top 10 Afrikaanse albums van 2021.

Skoenlapper is net soos sy vorige enkelsnitte opreg en eerlik. Dit is ’n liedjie wat net soos die skoenlapper nog “wapper-wapper” en “dapper-dapper” op almal se lippe gaan draal.

Skoenlapper is beskikbaar op alle digitale platforms.

Leave a Reply

error: Content is protected !!