Bykans ’n jaar nadat die Centurion-sangeres Zahn haar derde enkelsnit uitgereik het, is sy terug met nog ’n diep enkelsnit, Vergifnis Lei Na Vrede, wat maklik as een van die beste volwasse kontemporêre snitte van dié winter beskou kan word.

Zahn, wat bekendheid verwerf het vir haar energieke lewende vertonings, en natuurlik ook haar wyd-soos-die-Vader-se-genade gaping tussen haar tande, het die afgelope jaar deur ’n ongekende emosionele reis gegaan.

Sy moes eerstens die knoeiboeie van die pandemie afskud, en tweedens, vrede maak met dit wat in haar verlede gebeur het.

“Ek moes deur ’n baie moeilike tyd gaan om te leer, om te glo, om te laat gaan. Ek moes aanvaar dat ek nie dinge kan verander nie, maar net vorentoe kan kyk. Om van alles te vergeet – dit was deel van my genesingsreis,” vertel Zahn.

Dié vrede wat sy ervaar het, het gestalte gevind in Vergifnis Lei Na Vrede. Met dié enkelsnit het sy ook bewys dat sy nie net nog ’n Barbie-sangeres is nie en betree sy ook ’n nuwe era in haar eie musikale ontwaking.

Die genesingsproses manifisteer ook in die koorgedeelte van die snit.  “Ek sweef op Arendsvlerke, geloof verskuif ons berge, vergifnis lei na vrede. Elke keer wat ek se ek kan nie meer nie, is dit dalk omdat jy nie wil probeer…”

Die snit karring emosioneel aan ’n mens se siel en dit laat jou baie diep dink: oor die bedorwe wêreld waarin ons woon en waar vrede en vergifnis net twee woordeboekwoorde is wat nie in die praktyk toegepas word nie.

Vergifnis Lei Na Vrede handel oor menslike (of dit nou ’n lewensmaat of ’n vriend is) se absolute lojaliteit, maar as ’n paradoks – ook oor dáárdie mense wat jou hart in duisende stukkies kan breek.

Luister hier:

Haar vorige enkelsnitte, ’n Hart weer heelmaak en Dis hoe jy die wêreld verander se temas het rondom emosionele verwerping, hartseer, maar ook genesing gehandel.  Die liedjies is uitstekend deur plaaslike- en nasionale radiostasies ontvang en het op die trefferparades geboer.

Die temas van haar vorige snitte sluit ook nou by dié enkelsnit aan. Dit vorm ’n triologie en met die hoogtepunt, sê Zahn is die driehoek voltooi.  “Ek wil stories met my liedjies vertel en ek dink ek het dit ook met Vergifnis Lei Na Vrede reggekry,” sê Zahn. “Dis hoe jy die wêreld verander handel rondom innerlik geluk en ’n hart wat weer heelword kan net gebeur as jy toelaat dat God in jou lewe werk. En natuurlik om te vergeet, te vergewe en te aanvaar.”
Zahn moes die gruispad loop voordat daar ‘n musiekliggie op die horison was. “Ek het soms moed opgegee, iets anders probeer – ek het self vir ‘n ruk as au pair gewerk – maar ek het altyd bly sing en geoefen, al was dit net in my eie sitkamer of voor die spieël. Ek het net besluit om nie my drome prys te gee nie.”

Die snit, wat ’n gesamentlike penpoging deur Zahn en die skrywer en vervaardiger Louwrens Bezuidenhout is,  pas Zahn se sjokolade fluweelstem soos Wonder Women se knap uitrusting.

Zahn het ’n unieke stem. ’n Stem wat al ’n hele paar musiekharte verower het.

Vergifnis lei na vrede is ’n liedjie wat op almal se lippe moet wees.

Open in Spotify

Leave a Reply

error: Content is protected !!