Musikant en liedjieskrywer Werner Olckers beskryf sy splinternuwe alternatiewe popliedjie, Selfbeheer, as ‘n manier om tydperke van onsekerheid en frustrasie te verwerk. Die liedjie is in die begin van die pandemie in 2020 geskryf en is die eerste enkelsnit van sy loopbaan as solokunstenaar.

Selfbeheer kom uit Werner eie pen en is aan die begin van die inperking weens die pandemie in 2020 gekonseptualiseer. 

Ek dink almal het ‘n bietjie onsekerheid, frustrasie en buite beheer gevoel,” sê Werner, wat al vir 23 jaar deel is van die Suid-Afrikaanse musiekbedryf. 

Met dié snit vestig hy egter homself as solokunstenaar. “Die liedjie was vir my soos terapie. Om alles wat ons in die laaste paar jaar as mense ervaar het te verwerk en iets mooi daaruit te kan skep was ‘n belangrike proses vir my as ‘n kunstenaar en liedjieskrywer. 

Selfbeheer is ‘n vars briesie op die Afrikaanse musieklandskap en bied ‘n optimistiese klank met ‘n emosionele faktor waarby luisteraars kan aanklank vind. Werner glo dat die dualiteit tussen die opbeurende melodie en die effens meer pessimistiese lirieke iets is waarvoor hy bekend is.

“Wat die liedjie vir my beteken kan vir ‘n ander persoon iets heeltemal anders beteken. Op die einde van die dag is die belangrikste ding vir my dat mense iets voel as hulle die liedjie hoor,” sê Werner. 

Die begaafde musikant beplan om vroeg vanjaar nog ‘n enkelsnit uit te reik en beplan om teen die middel van die jaar ‘n vollengte album uit te reik. Hy wil ook graag die langpad vat en landswyd optree. 

Die musiekvideo vir Selfbeheer stel hoofsaaklik weer vir Werner as solokunstenaar voor, maar terselfdertyd word die musiek en lirieke aan luisteraars in ‘n interaktiewe saamsing-styl uitgebeeld.  

Die musiekvideo is ‘n mengsel tussen ‘n tradisionele optrede- en liriek-video. Die video is geskiet deur Studio Chapters Produksies. Nathan Smith het die redigering en gradering behartig terwyl Jean Lombard Creative die animasie gedoen het. 

Kyk die musiekvideo hier: 

Meer oor die kunstenaar: 

Werner Olckers is sedert die ouderdom van 16 jaar werksaam in die Suid-Afrikaanse musiekbedryf as professionele musikant. 

Sy pa was ‘n televisiejoernalis en hy het gevolglik op die stelle van die SABC groot geword. Dié vroeë ervarings het ‘n groot invloed gehad op die vorming van sy liefde vir optredes. Werner se ma is uiters musikaal en bespeel onder meer die kitaar, klavier en orrel. 

Werner het aan die Pro Arte Alphen Park-kunsskool in Pretoria gematrikuleer. Dit is hier waar hy sy eie stem ontdek en begin musiek skryf het. 

As hy nie ‘n musikant was nie, sou hy ‘n fliekresensent word. 

Werner se musieksmaak is uiteenlopend, en probeer hy soveel nuwe en ou musiek ontdek as moontlik. Hy beskryf sy eie styl as melodies. 

Op eie bodem kyk Werner op na die musikant en liriekskrywer Hunter Kennedy. Hy put inspirasie uit die alledaagse aspekte van die lewe, van verhoudings, sy liefde vir popkultuur, flieks en boeke. 

Sy pa se diagnose met terminale emfiseem, asook die afsterwe van sy beste vriend in 2020, het ‘n groot invloed op hoe Werner vandag oor musiek voel. 

Werner tel die ‘n liedjie wat hy vir die rolprent Spud 2 geskryf het, asook die geleentheid om saam met die Afrikaanse popster Kurt Darren op die verhoog te staan tydens ‘n regstreekse optrede by die SAMA-toekennings, as hoogtepunte in sy musiekloopbaan. 

Werner is ook benoem deur die musiekwebwerf Texx and the City as een van Suid-Afrika se beste liedjieskrywers. 

Werner se werk is ook al vir drie SAMA-toekennings, vele MK-toekennings, Loerie-toekennings en Pendoring-toekennings benoem. Sy liedjies het ook al vele no. 1-posisies op radio- en televisiespeellyste gehou. 

Selfbeheer is beskikbaar op alle digitale platforms.

Open in Spotify

Leave a Reply

error: Content is protected !!