In 2008 verhuis TiNO en sy ouers na Suid-Afrika van Zimbabwe.  In hierdie stadium was hy ‘n skrale 6 jaar oud. Hul gesin vestig hulself op Swellendam en dit is ook hier waar TiNO sy kinderjare deurbring.

Tydens sy hoërskooljare draai sy lewe om rugby en akademie en het altyd geglo dat hy, soos sy oupa, ‘n boer sal word op ‘n tabakplaas in Zimbabwe. Sy harde werk en puik akademie aan die Hoër Landbouskool Oakdale, verseker vir hom ‘n vol studiebeurs deur Klein Karoo Saadproduksies.

Op 19 jarige ouderdom tel hy vir die eerste keer ‘n kitaar op.  “Ek het nie werklik gesing nie, ek het maar net saam met die ritme geneurie.”, vertel hy.

Min wetende sou dit die begin vir TiNO (wie se moedertaal Shona is) se Afrikaanse musiekloopbaan wees.  Alhoewel ‘n loopbaan in musiek nie deel van sy beplanning was nie, het hy dadelik ‘n nuwe tuiste tussen die wysies en die woorde gevind.

Spoedig besef TiNO dat musiek ‘n ander manier bied om emosie mee uit te druk.  Die verlange na sy vriende in Zimbabwe gee aanleiding vir sy eerste enkelsnit, Afstand, wat hy skryf saam met sy vriend Dieter Sullwald.

Hy neem die besluit om die lied professioneel te laat vervaardig en dié eindig op in die hande van die bekende vervaardiger, Tertius Human.  En die res is, soos hulle sê, is geskiedenis.

TiNO  beskryf die proses as magies.  Binne ‘n kwessie van ‘n week het een lied verander in 10 en so is ‘n hele album vervaardig – STERREKIND.

Vandag is TiNO trots op dit wat sy musiek vir ander mense beteken.  In sy nederigheid prys hy die Here vir die ontvangs wat sy musiek op radio en onder die publiek geniet.

Sy musiek word tans gespeel deur van ons land se grootste stasies en pryk op talle top 10 trefferparades.  Een van sy hoogtepunte is die nommer 1 posisie wat sy lied AFSTAND losgeslaan het op RSG. “Dis hierdie dinge wat my inspireer om nog musiek te skryf”, verduidelik die jong kunstenaar van 21.

Kyk Afstand se musiekvideo hier:

TiNO is dankbaar vir sy familie wat hom ondersteun al kan sy familie nie hondhaar afmaak van die Afrikaanse lirieke nie. “Al Afrikaanse lirieke wat my ma ken is dié van Transkaroo.”, skerts hy.

TiNO  se fokus is tans op sy landboustudies. Hy speel ook rugby vir die o/20 span by die Universiteit van Stellenbosch.

As jy hom vra wat is sy raad aan ander, is sy antwoord, sonder huiwer: “Moenie wag dat iets goeds na jou kant toe kom nie.  As jy ‘n musikant wil wees wat kitaar speel, moet jy maar die kitaar optel en begin om te speel.”

Luister Tino se musiek hier:

Open in Spotify

Leave a Reply

error: Content is protected !!