Ilán van Staden Ontlaai

Nadat hy in 2022 harte gesteel het as deel van die teaterproduksie, Die Gelofte: ’n Musiekblyspel, en met sy debuut-enkelsnit, Koue Pizza, is Ilán van Staden sommer vroeg in 2023 terug in die kollig om bewonderaars verder te bekoor.

Ontlaai, sy nuutste vrystelling uit die pen van Johan Vorster en David de Villiers, is pas uitgereik en is reeds besig om soos ’n veldbrand onder luisteraars te versprei!

“Dit is ’n positiewe goedvoel-liedjie, wat gaan oor hoe almal van ons een of ander vorm van ontlading nodig het,” verduidelik hy. “Soms is jy onder soveel druk dat dit te veel raak. Dit is dan wanneer jy moet stil raak, asem skep en doen waarvoor jy lief is – soos om te gaan jag, vis te vang, om die bosveldvuur te ontspan en te braai. Dit is elke man se roeping om ’n baken vir sy gesin te wees en hulle te lei en ek hoop dat hierdie liedjie elkeen wat dit hoor sal inspireer.”

Volgens Ilán het hy onmiddellik aanklank gevind by dié snit, wat deur Dirk van Niekerk vervaardig is, toe hy dit vir die eerste keer hoor en glo hy dat ander mans ook met die lirieke sal kan vereenselwig.

Ontlaai bring samehorigheid en raak onderwerpe aan waaroor mans al baie gewonder het, gebid het en gesels het om die bosveldvuur,” voeg hy by.

Buiten vir Koue Pizza, het dié aantreklike sangsensasie – wat onlangs ’n platekontrak met Inhoud Huis Musiek gesluit het – ook ’n duet uitgereik genaamd Soen My Op My Mond saam met Bernice West, wat spesifiek vir Die Gelofte geskryf en steeds ’n treffer is op radiostasies landswyd.

Vandat hy kan onthou, wou dié 26-jarige Pretorianer nog altyd musiek maak. As kind, het hy sy ouers se potte en panne geslaan met paplepels totdat hulle hom uiteindelik vir kitaar- en dromlesse geneem en as tiener het hy begin musiek skryf en saam met sy skoolorkes optree. Verder was hy ook dromspeler en mede-komponis van verskeie Sêr-groepe op universiteit – hy het sy meestersgraad in omgewings- en biologiese wetenskappe aan Noordwes-Universiteit behaal in 2019 – terwyl hy op elke geleentheid wat hy kon kry saam met musiekgroepe opgetree het in Potchefstroom.

Sedertdien werk hy hard daaraan om sy musiekvaardighede op te skerp en die beste te maak van elke geleentheid wat hy kry en daarom het hy ook aan die derde seisoen van The Voice SA deelgeneem.

Tans is hy besig met fiksheidsvoorbereiding vir ’n splinternuwe musiekblyspel oor die grensoorlog, Die Kaplyn, wat in April begin en waarin hy ook die hoofrol vertolk.

Verder is hy ook in die proses om sy eerste album te finaliseer en bestuur hy sy musiekskool, Ilán’s Music Academy, wat vanjaar reeds vyf jaar bestaan. Intussen doen hy ook soveel optredes as moontlik en beplan hy om vanjaar die land plat te toer.

Ontlaai, wat ook die titelsnit van sy komende album is, is een van daardie liedjies wat jou spontaan laat luister en saam neurie wanneer jy dit hoor. Dit het ’n kragtige en inspirerende boodskap waarmee dié begaafde musikant graag ’n verskil wil maak.  Die video van die enkelsnit sal binnekort beskikbaar wees.

“Ek besef ook net weer van voor af hoe elke faset van ’n mens se lewe regtig ’n saak van gebed moet wees, waar jy die Here se stem moet hoor. Ek praat so oor al my planne, maar Hy bepaal hoe my dobbelsteen val. Joune ook. Verder word ek gelei deur Sy vrede en geopende deure,” sluit hy af.

Ontlaai is nou beskikbaar op alle digitale platforms.

Open in Spotify

Leave a Reply

error: Content is protected !!