Danny Smoke, sowel as Liezel Pieters, word nou ook verwelkom as deel van die orkes wat op 25 Maart verskeie Suid-Afrikaanse kunstenaars tydens hulle huldeblyk aan Theuns Jordaan sal begelei.

Danny het die wonderlike voorreg gehad om Theuns in 2020 gedurende die opname van sy heel laaste DVD, Agter Slot & Grendel (Live), op klawerbord, skop-drom, en kitare te kon begelei. “Ek voel geseënd om deur my betrokkenheid by hierdie orkes al die goeie herinneringe saam met Theuns tydens sy laaste opnames in die ateljee weer saam met hierdie gehoor te kan herleef,” het hy gesê.

Danny het oorspronklik nie slegs as uitmuntende kitaarspeler op groot verhoë soos dié van Afrikaans Is Groot en InAfrikaans bekendheid verwerf nie, maar ook as gerekende vervaardiger van albums vir verskeie plaaslike kunstenaars. Hierdie begaafde musikant, en liedjieskrywer, het egter in 2019 met die vrystelling van sy debuutalbum, Swaeltjies, ook ‘n as sanger behoorlik sy staal gewys. Dié effens gewaagde album, waarop veral sy trilogie, Soek Jy Aandag Of Soek Jy My Lyf?, T-Shirt, en Gaan Ons Inlê? heelwat aandag getrek het, is deur sy nuutste enkelsnit, Wie’s Jou Kat?, opgevolg.

Danny Smoke | Foto verskaf deur Tania Fourie Promosies

Liezel is op haar beurt weer die voorreg gegun om in 2019 tydens die gewilde KRONE 6-vertonings in Pretoria, sowel as in Kaapstad, die verhoog met hierdie legendariese superster te kon deel. “Ek is regtig baie dankbaar om Theuns tydens só ‘n spesiale geleentheid vir sy enorme bydrae tot die Suid-Afrikaanse musiekbedryf te kan bedank, selfs al is dit nou ook in sy afwesigheid, het sy gesê.

Liezel met die betowerende fluweelstem is oorspronklik tydens een van haar vele vertonings by die bekende Barnyard Theatres raakgesien waarna sy in 2015 met haar eerste enkelsnit, Asemloos, aan die plaaslike mark bekend gestel is. Haar lang verwagte debuutalbum, Sing My Hart Uit, wat in 2017 verskyn het, is deur verskeie enkelsnitte soos In Ons Bloed en die meer onlangse Plus Minus Maal Deel opgevolg. As deel van die gewilde musiekgroep, 4Werke, het sy ook die geleentheid gehad om saam met Elizma Theron, Nicholis Louw, en Ray Dylan, twee albums, 4Warm en 4 By 4, uit te reik.

Liezel Pieters | Foto verskaf deur Tania Fourie Promosies

Die vervaardigers Jacques du Plessis, ‘n jarelange vriend van Theuns, is baie opgewonde om vir Liezel, asook vir Danny, by hierdie eenmalige konsert se amptelike Tribute-orkes te verwelkom. Buiten vir hulle elkeen se uitsonderlike talent, is dit egter juis ook die besondere band tussen hulle en wyle Theuns, wat beloof om dit ‘n onvergeetlike ervaring vir sy aanhangers te maak.

Die kaartjiepryse begin op R190 en kaartjie-verkope is tans oop by www.itickets.co.za

Leave a Reply

error: Content is protected !!