Hart van 'n Held - RNK

Verskeie boerehelde is al in die vorm van poësie, letterkunde en musiek vereer, maar iewers in die argiewe van tyd het die verhale van kinderhelde tussen “stof en roet”  vergaan.

Hoewel die verhaal van die elfjarige Japie Greyling in reliëf in die kindermonument in Bloemfontein uitgebeeld word, word sy naam nooit in dieselfde asem as die, van byvoorbeeld, generaal Koos de la Rey, genoem nie.

Die duo-groep RNK, wat bestaan uit Karin en Reinhard Herbst, het egter nie van Japie, wat bereid was om eerder voor die vuurpeloton te sterf as om inligting oor ’n Boerekommando aan die Britte te verstrek, vergeet nie.

Sy storie het ook as inspirasie vir hul jongste enkelsnit, Hart van ’n Held, gedien. “Die onverskrokkenheid en beginselvastheid wat Japie Greyling aan die dag gelê het, is eienskappe wat vriend en vyand as heldemoed erken en waardeer, en daarom het ons ook besluit om hom in die vorm van ’n liedjie te vereer,” vertel Reinhard.

“Praat, of ek skiet,” was die laaste woorde wat Japie gehoor het voordat die koeëls sy lyfie sou deurboor, maar gelukkig het Kaptein Seely geswig voor die kind se dapperheid  – en sy soldate beveel om hulle gewere te laat sak.

Volgens Reinhard was die snit oor Japie Greyling van Kobus Henning van KHP Productions se breinkind. “Hy het my gevra om ’n liedjie oor dié kinderheld te skryf. Ek het egter dieper in die geskiedenis gaan delf en gevind dat Japie se verhaal baie universele waarhede bevat; dit is nie net die storie van ’n jong held nie, maar ook oor ’n seun se onvoorwaardelike liefde vir sy pa en sy broers , wat die dood bo verraad verkies het.”

RKN het hulself gevestig as unieke, musikale storievertellers wat lekker-luisterliedjies skep. Die groep kan ook met woorde toor en span gewoonlike ’n hele paar literêre toertjies in om die liedjies te laat galop.

Hulle laaste enkelsnit, Oppie langpad, wat vroeër vanjaar uitgereik is, is goed deur plaaslike radiostasies ontvang.

Hart van ’n Held kan met Bok van Blerk se treffer De la Rey vergelyk word. Dit is ’n liedjie wat ’n dieper storie vertel oor die verlede wat soms nog baie swaar aan die Afrikaner kleef. Dit is ’n liedjie wat eerstens die wreedhede van die Anglo-Boere Oorlog belig, maar tweedens is dit ook ’n oorwinningslied. Dié liedjie is moontlik net die jaar se grootse treffer. “Ons hoop dat die snit die hartsnare sal roer en ons weer trots sal maak oor die helde uit die verlede,” sê Reinhard.

RKN het van die land se beste musikante vir die musikale produksie van die snit ingespan en die tegniese versorging van die snit dra ook by tot die sukses.  Vinnie Henrico kan op die dromme gehoor word, Denny Lalouette op die baskitaar en Austin Hulme op die elektriese- en akoestiese kitaar. Hy was ook verantwoordelik vir die finale produksie van die snit.

Hart van ‘n Held is beskikbaar op alle digitale platforms.

Leave a Reply

error: Content is protected !!