Die sanger-akteur Pierre van Schalkwyk sê hy het dié nuwe jaar sonder ‘n druppel oor die lippe ingewy, maar het sy musiekjaar met ‘n splinternuwe enkelsnit Babelas Blues afgeskop.

Pierre, wat eers onlangs die sobere, donker klanke van blues ontdek het, sê hy het die liedjie geskryf met ietwat van ‘n ‘babelas blues.’   Kuns word gewoonlik uit die donkerte van ‘n gebroke siel gebore, so is Babelas Blues ook geskep toe Pierre op ‘n donker plek in sy lewe was. “Die beste raad wat ek onlangs gekry het om van die seer te vergeet en aan te beweeg is om dit met beide hande aan te gryp. Voel die pyn; gebruik dit tot jou voordeel; maak musiek. Huil, lag, beweeg aan.”

En vir dáárdie regte babelas?

“Dis nou ‘n ander storie,” lag hy. “Koeldrank, gemorskos en ‘n dag in die bed met die een oog op die kassie.”

Pierre het verlede jaar met sy debuut album Studentejare, gedebuteer en musiekkritici het hom geloof vir sy Leonard Cohen-agtige sing-praat stem en die liriekgedrewenheid van die album se oorspronklike snitte. Met Babelas Blues wyk hy nie van die studentejare-wenresep af nie. Die liedjie kyk ook nostalgies terug na die jare wat hy aan die Universiteit van Stellenbosch studeer het.  Dit is ‘n liefdesliedjie wat hy self neergepen het en tematies (soos in die geval van Studentejare) voortgebou het op stormagtige studenteliefdesverhoudings.  “Die meeste mense het seker al ‘n babelas gehad, maar ‘n babelas blues is na my mening wanneer jy drink om van die pyn van ‘n verlore liefde te vergeet. As ‘n student is dáárdie liefdespyn soveel erger.  Elke keer wanneer jy verlief raak, dink jy dit is die een en wanneer die verhouding, dalk te vinnig, tot ‘n einde kom bied dit die verskoning om jou sorge te verdrink.”

Pierre, wat ook vroeër verlede jaar sy sepie debuut as Chad in die kykNET-sepie Suidooster ­gemaak het, is ‘n storieverteller en Babelas Blues is soos ‘n miniatuur film-noir uit die 1920’s. Die bekvol mondfluitjie-klanke is ‘n musikale hoogtepunt en herinner aan die vergane era van rokerige blues-kroeë. “Ek was nog nooit regtig ‘n liefhebber van blues nie, maar ek wou graag ‘n blueserige-liedjie opneem. Ek het na blues-musiek begin luister en het die wonderlike musiek van Ma Rainey, Janis Joplin en ZZ Top ontdek.”

Dié liedjie wat deur Riaan Steyn van Traxtudio opgeneem is, is ‘n baldadige liefdes-blues en hy gaan beslis ‘n paar nuwe musiekharte verower.

Babelas Blues is beskikbaar op alle digitale platforms.

Sosiale Media: Facebook | Instagram

Leave a Reply

error: Content is protected !!