Dis 10 dae sedert Levi Jeans, die derde enkelsnit vanaf Jan Blohm se nuwe album – Jenny, se nuwe musiek video vrygestel is. Hoe meer mens daarna kyk hoe beter word dit.

Die video, wat in Lionel Smit se ateljee en kunsgallery verfilm is, bevat skote van pragtige skilderye en beelde wat simbolies is van die kreatiwiteit wat agter hierdie produksie en liedjie skuil. “Wat die video so besonders maak, is dat dit nie net in Lionel se gallery – met sy werk in die agtergrond – geskiet is nie, maar dat hy ook die een agter die kamera was en die video gemaak het,” verklap Jan. “Daar was nie ’n spesifieke idee of konsep nie en alles het net mooi saamgevloei. Die boodskap is dat kreatiwiteit bevrydend kan wees.”

Bevryding is ook een van die temas van die enkelsnit wat, soos gewoonlik, uit die kunstenaar se eie pen kom. “Levi Jeans is oorspronklik as oorpakke deur werkers gedra. Dit het later ’n modegier geword en is ook waar die term ‘Blue Collar’ vandaan kom. In ons land se Geskiedenis was daar ’n tyd en dele van ons samelewing, waar dit verbode was vir ’n vrou om jeans te dra – die liedjie gaan daarom ook oor bevryding en bemagtiging,” sê hy.

Levi Jeans is die volgende hoofstuk van dié bekroonde musiekdigter se konsepalbum, wat saamgestel is om ’n storie te vertel, en volg in die suksesvolle voetspore van Jenny en Ou Karoo wat albei uitstekend ontvang is en steeds van die gewildste treffers op van ons land se grootste radiostasies is.

Die album bestaan uit veertien snitte wat die storie vertel van twee tieners wat in die 1980’s in die klein konserwatiewe spoorwegdorpie, De Aar, woon.

Jenny, wat net voor die inperking in Maart 2020 uitgereik is, se doel was om die album en sy hoofkarakters aan die luisteraar bekend te stel.

Ou Karoo, waar daarna gevolg het, skep die omgewing en lê klem op die landskap wat deur hierdie mense se are vloei en dit vir hulle moeilik maak om elders aan te pas. Dis ’n lied oor Jenny se eie hunkering om terug by die huis te wees.

“Die album is nie net nog ’n versameling liedjies nie,” verduidelik die musikant. “Ek het baie moeite gedoen om oor die afgelope vyftien jaar liedjies en gedigte saam te sit om ’n storie te vertel. Dis soos ’n fliek van Jenny se lewe.”

Buiten vir sy musiek, is Jan self ook tans besig om te skilder en beeldhouwerk te doen vir sy kunsgallery in die Strand en daarom is sy nuutste musiekvideo vir hom baie spesiaal.

Met Levi Jeans deel Jan Blohm nie net die volgende hoofstuk in Jenny se verhaal nie, maar met die video kry hy ook die geleentheid om een van sy ander groot passies met bewonderaars te deel.

Die album JENNY is op alle digitale paltforms hier beskikbaar:  https://lnk.to/qWJR7gaL

Leave a Reply

error: Content is protected !!