Afrikaanse rock band, Kontras, is terug met ‘n nuwe vrystelling, Iets Is Fokken Fout Met My. Dit is die eerste enkelsnit van hul opkomende EP, Somer Sonder Sondes, wat 26 November oral beskikbaar sal wees. Hierdie is hul eerste nuwe musiek in meer as ‘n jaar na hul debuutalbum, Vir Konteks, in September 2020 vrygestel is.

Die nuutste enkelsnit, Iets Is Fokken Fout Met My, trek dadelik jou aandag. Kontras is bekend vir hul saamsing-melodieë gepaard met catchy guitar riffs en harde dromme, maar hierdie keer sien onsdie band maak musiek met atmosferiese kitare, ‘n klavier en ligter dromme. Iets Is Fokken Fout Met My sien hoe Kontras ‘n sagter, meer intieme rigting inslaan met hul musiek en draai die lens vir ‘n slag op eenself, in plaas van die wêreld daar buite. Kontras is trots daarop dat hulle musiek maak wat jou hartsnare roer, maar jou ook sal laat headbang. Die klank is angstig en melankolies. Alhoewel dit op die oog af as depressief beskryf kan word, is die boodskap eintlik positief.

Iets Is Fokken Fout Met My spreek die donker aan wat binne elkeen van ons gevind kan word wanneer moeilike tye oor ons pad kom. Die oomblik wat jy bewus word van wat verkeerd is, kan mens werk om dit reg te maak. Mense se geestesgesondheid is nie baie sterk op die oomblik nie, en as gevolg van dit begin ons mekaar wegstoot. Mens moet nooit skaam wees om vir hulp te vra nie. Dit kan dalk voel asof jy verdrink, maar almal is in dieselfde storm. Byt vas en weet dat die son weer sal skyn. Jacques Groenewald, Kontras se hoofsanger, het die volgende te sê gehad oor ‘Iets Is Fokken Fout Met My’;

Iets Is Fokken Fout Met My gaan oor die aanvaarding dat niemand perfek is nie en dat ons almal tekortkominge het. Maar dit beteken nie ons is sleg of minder werd nie, dit maak ons menslik. Soms voel dit of als verkeerd gaan en of mens nooit die punt gaan behaal wat jy wil nie, maar as jy aanhou glo en werk sal daar ‘n uitkoms wees, maak nie saak hoe donker die tonnel tans is nie.”

Kyk die musiekvideo hier:

Die musiekvideo is gemaak deur Hugo Brand (Spoegwolf, Die Heuwels Fantasties, Loki Rothman) wat ook hul vorige musiekvideo vir “Velde” gemaak het. Hul opkomende EP, Somer Sonder Sondes, (oral beskikbaar 26 November 2021). Hul debuut album Vir Konteks het verskeie suksesvolle enkelsnitte bevat wat te sien was op editorial playlists op Apple Music en Spotify. Enkelsnitte soos “Die Ruimtevaarder”, “Velde”, en “Mors Jou Drank” is nogsteeds te sien op gewilde playlists soos Alternatiewe Afrikaans en Splinternuwe Afrikaans op Apple Music.

Kontras se agtergrond:

‘n Band wat gevorm het tussen klasse by die Universiteit van Stellenbosch, Kontras het hul debuut gesien in Februarie van 2018 toe Jacques Groenewald (hoofsanger), Daniël Botha (dromme), Andrew Veldman (kitaar) en Louwrens Labuschagne (baskitaar) agtergekom het daar is ‘n tekort in Afrikaanse musiek; musiek wat eg voel. Hul debuutalbum, Vir Konteks (Sep 2020), het op verskeie platforms se trefferlyste verskyn en was genomineer vir Alternatiewe Afrikaanse Album van die jaar (2020). Een van hul eerste enkelsnitte, “Middelklas Middelman”, het vir Kontras baie gedoen, veral nadat dit ondersteuning vanaf Afrikaans is Groot, KykNET, Huisgenoot, Maroela Media, Sterre, Afrikaanse Musiek Nuus, Texx and the City, Plektrum Musiek en nog vele ander publikasies gekry het. Kontras het al meer as 140 000 spele gekry op digitale platforms en is dit steeds besig om vinnig te groei. Kontras se musiek kan gehoor word op radiostasies regoor Suid-Afrika soos BokRadio, OneFM, MFM, KovsieFM, LekkerFM, Radio Overberg, GrindRadio, TreffersFM, GrootFM, BayFM, en HosaRadio om net ‘n paar te noem.

Iets Is Fokken Fout Met My is beskikbaar op alle digitale platforms.

Leave a Reply

error: Content is protected !!