Petronel Baard het in die grendeltyd die vier seisoene deur haar kamervenster gesien kom en gaan. Sy het die somer herken aan die braaivleisgeure in die nag en die herfs aan die val van blare in ‘n palet van goud, rooi, groen en oranje. Sy het ook musiek in die wind gehoor wat met ‘n geritsel van blare aangewaai kom. In die winter het die liefde dieper in die kaal woud ingetrek, terwyl die lente bruisend aangebreek het met ‘n blom in elke vrou van noord na suid en oos na wes.

Petronel gesels oor haar jongste produksie,’n Blom In Elke Vrou, wat net een vertoning by die Klein Karoo Nasionale Kunstefees (KKNK) sal hê. Sy gaan op ‘n poëtiese reis deur die vier seisoene, vergesel van eie toonsettings, geïnspireer deur die klank van inheemse plantname. Die teks is deurspek met verwysings na seisoenale plante en deurvleg met gedigte van Mardene Marais van Cordis Trust.

Petronel het haar ook in Madine Swart se boek, “Flora se geheime taal”, verdiep en insette van die tuinboughoeroe Ernst van Jaarsveld gekry vir ‘n teks met soveel lae dat elke luisteraar hierin iets sal vind om te koester. Sy sê dat die produksie jou ten diepste kan raak of jy kan jou verkneukel aan die kreatiewe plantname. Dit is veelseggend, selfs sonder teks.

Hoewel die produksie uit die perspektief van ‘n vrou geskryf is, sal dit nie net vroue aanspreek nie, want daar is ‘n blom in elke mens. Petronel word op die verhoog deur haar nuwe orkes onder leiding van die pianis Franco Engelbrecht bygestaan. Johan Engelbrecht speel viool en kitaar en Lelane van der Merwe is die tjellis. Die bekroonde Suid-Kaapse kinderkoor met Jan-Erik Swart as dirigent sal agt liedere saam met Petronel sing.

Haar enkelsnit Gelukwaarts sing sy saam met die Mosselbaai-strykensemble as ‘n slotwerk vir die Blom-produksie.

* 3 April 2023, 18:30, Absa Burgersentrum. Kaartjies kos R150, R165 by die deur en R140 vir Vriende van die KKNK. Bespreek by Webtickets.

Leave a Reply

error: Content is protected !!