Luna is ‘n opwindende nuwe sangeres wat met haar eerste enkelsnit, Tot Daar Niks Meer Oor Is ‘n vars, internasionale klank tot die Afrikaanse musiekmark bring.
Tot Daar Niks Meer Oor Is is geïnspireer deur die liefdesverhaal van Romeo en Juliet wat alles op die lyn gesit het om bymekaar te wees. “Elke persoon verdien die tipe liefde waarvoor hulle elke stukkie van hulself wil gee”, vertel sy. Dis wel ‘n liefdesliedjie, maar alles behalwe ‘n ballade. Die voete gaan jeuk en die heupe swaai op die pop treffer wat geskryf is deur bekende
liedjieskrywer en ADAM-lid, Hugo Ludik. Nicholas Jordan en Brendan Ross Campbell van Rubber Duc het ook hand bygesit tot die lirieke en Muse Studios het die liedjie gemeng en
vervaardig.
Die opwindende pop snit se stylvolle, kommersiële klank gaan ‘n groot gunsteling onder die jong, energieke generasie wees wat nuwe liefde ervaar. “Ek glo daar is ‘n Romeo vir elke
meisie daar buite en as jy daardie Romeo gekry het moet jy vasklou want ware liefde is skaars”, vertel die blonde skoonheid oor wat die liedjie vir haar beteken. “Gee elke dag jou alles”.
Met musiek wat heeldag in haar ouerhuis in Johannesburg in haar kinderjare gespeel het, is die saadjie om eendag ‘n sangeres te word al vroeg geplant. “Ek het eendag ‘n mikrofoon opgetel en vir my ma gewys hoe mooi ek Oom Olifant kon sing”, vertel sy laggend, “en kon nog nie weer die mikrofoon neersit nie.”
Luna se passie vir musiek het verder gegroei in Laerskool Dr Havinga se skoolkoor en het op die ouderdom van 14 begin met sanglesse. Op Hoërskool Bastion het sy begin uitblink in netbal en dans maar besluit om op 16 die ys te breek en op sosiale geleenthede en liefdadigheid funksies voor mense te begin sing. Sy sal hierdie jaar haar skoolloopbaan voltooi en wil graag BCom Bemarking gaan studeer.
“Shoot for the moon – if you miss, you’ll end up in the stars”. Dit is haar motto in die lewe en ook waar sy die inspirasie vir haar naam gekry het. Luna is die Romeinse godin van die maan.
Sy is jonk, energiek met ‘n onblusbare passie vir Afrikaans en met hope talent is Luna beslis een om dop te hou! Hierdie is die eerste van vele enkelsnitte vir Luna.
Tot Daar Niks Meer Oor Is is beskikbaar op alle digitale platforms.
Sosiale Media: Facebook | Instagram