In haar splinternuwe enkelsnit, Hoe Jy Lyk, dra Nadia Vorster die boodskap oor dat die oppervlakkige soeke na aanvaarding nie die moeite werd is nie, maar eerder die wete dat ons perfek geskape is.

“Ons almal behoort op ’n plek te kom waar ons nie meer omgee wat ander oor ons voorkoms dink nie – en ook waar ons ander nie meer op en af kyk nie. Ons strewe na onrealistiese sosiale media verwagtinge en in die proses word ons soms baie ongelukkig,” het Vorster vertel. Hoe Jy Lyk is Vorster se vierde enkelsnit van haar tweede album, Geanker in Hoop, wat binnekort vrygestel sal word.

Hoe Jy Lyk is gepen deur die bekroonde sangeres en liedjieskrywer, Riana Nel.

Ek het oorspronklik vir Riana genader om vir my ’n lied te skryf en sy het toe dié liedjie, wat sy reeds geskryf het, vir my gesing. Met twee tienerdogters het Hoe Jy Lyk se boodskap dadelik my hart aangegryp en ek het gevoel dit is iets wat ek graag met die publiek – en veral jonger mense – wil deel,” vertel sy opgewonde.

Ek was self was op skool gespot – ek was ’n mollige laerskooldogter wat dikwels deurgeloop het onder die skerp woorde van boelies,” vertel sy ingedagte.

Op hoërskool het ek sake in my eie hande probeer neem en ek het soveel gewig verloor dat ek in fases voor anoreksie was. Ek was na my tweede baba oorgewig – en dit was nie van ongesond eet nie,” vertel sy. “My gewig het wipplank gerys tot na my derde kind se geboorte en toe word hormoonwanbalanse en eetversteurings ’n realiteit in my lewe,” voeg sy by.

Alles wat ek ook al deurgemaak het laat my verstaan hoe dit voel om onaanvaarbaar vir die samelewing te voel,” het sy gesê.

Volgens haar werk sy elke dag aan haarself , maar nie vir aanvaarding nie – wel om ‘’n gesonde liggaam te hê.

Vorster het vertel dat sy hoop dié Afrikaanse popliedjie sal mense laat besef God het ons perfek gemaak en dat hy ons liefhet. “Op die einde is dit tog al wat saakmaak,” voeg sy by. “Almal het iets aan hulself waarmee hulle nie tevrede is nie en ek glo dié liedjie sal met elkeen praat om verby dit te kyk en die skoonheid van binne na buite uit te straal,” verduidelik sy.

“Ek sien ook baie uit om ’n lied saam met my dogter, Alba, op te neem. Ek en William Wolf het saam geskryf aan hierdie duet – met my kinders wat ook self insae gehad het in die skryfproses. Dit sal ’n spesiale Vrouedagprojek wees,” het sy laat glip.

Met Hoe Jy Lyk het een van Vorster se drome waar geword aangesien sy graag saam met Riana Nel wou werk.

Hoe Jy Lyk is beskikbaar op alle digitale platforms.

Sosiale Media: Facebook | Instagram

Leave a Reply

error: Content is protected !!